Daniël 6:1-11

Daniël 6:1-11 DB

Darius, die Mediër, het op die ouderdom van 62 in Belsasar se plek koning geword. Hy het besluit om die koninkryk in 120 provinsies te verdeel en het vir elkeen ’n goewerneur aangestel. Verder het hy ook drie ministers aangestel, van wie Daniël een was. Hulle moes kyk dat die goewerneurs hulle werk reg doen en ook dat die koning se belange beskerm word. Daniël het gou bewys dat hy baie bekwamer was as enige van die ander ministers of goewerneurs. Die koning was so beïndruk met hom dat hy dit oorweeg het om die hele koninkryk onder sy bestuur te plaas. Die ander ministers en goewerneurs het jaloers geword en begin fout soek met die manier waarop Daniël die koninkryk bestuur het. Hulle kon egter geen fout kry nie, aangesien Daniël betroubaar was en niks oneerliks gedoen het nie. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons enigste kans om Daniël vas te trek is as ons hom aankla oor die manier waarop hy sy godsdiens beoefen.” Hulle is toe weg na die koning toe. By hom aangekom, het hulle hom gegroet: “Lank lewe koning Darius! Al die ministers, adjunkministers, goewerneurs en ander administrateurs het besluit om met u te praat. Ons dink U Majesteit moet ’n koninklike bevel uitvaardig wat sê dat enige persoon wat in die volgende 30 dae enige ander persoon of god buiten U Majesteit aanbid, in ’n hok vol leeus gegooi moet word. Gee nou dadelik so ’n bevel skriftelik en onderteken dit sodat dit onmiddellik in werking tree en niemand dit kan verander nie. Maak dit ’n wet van Meders en Perse wat nie teruggetrek kan word nie.” Koning Darius het toe so ’n bevel opgestel en geteken. Toe Daniël hoor dat die bevel onderteken is, het hy huis toe gegaan. In een van die boonste kamers van sy huis was daar vensters wat in die rigting van Jerusalem gekyk het. Daar het hy, soos sy gewoonte was, voortgegaan om by die oop vensters te kniel en drie maal per dag tot God te bid en Hom te prys.