Ester 2
2
Goeie raad vir die koning
1Later, toe Ahasveros se woede bedaar het, het hy weer aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het, asook oor wat hy oor haar besluit het.
2’n Paar van die koning se persoonlike amptenare maak toe ’n voorstel: “Hoekom laat soek die koning nie vir hom ’n klomp mooi jongmeisies in sy koninkryk nie? 3Stel in elke provinsie amptenare aan en laat hulle al die mooi jongmeisies na die vrouekwartiere in Susan bring. Laat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer is van die vroue in die paleis, vir hulle sorg. Hier moet hulle skoonheidsbehandeling ondergaan, 4en dan moet die meisie van wie u die meeste hou, koningin word in Vasti se plek.”
Die koning het van die voorstel gehou en hulle raad gevolg.
Ester verskyn op die toneel
5Daar het ’n Jood met die naam Mordegai in die stad Susan gebly; hy was die seun van Jaïr. Hy was uit die stam van Benjamin en sy voorouers was Simi en Kis. 6Hy was een van die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda deur Nebukadnesar, die koning van Babel, uit Jerusalem weggevoer is. 7Mordegai het ’n pragtige jong niggie met die naam Hadassa, dit is Ester, gehad. Sy was sy oom se kind, maar na haar pa en ma se dood, het hy haar aangeneem en soos sy eie dogter grootgemaak.
8Die koning se opdrag is uitgevoer. Hulle het ’n groot klomp meisies na Susan toe gebring en hulle onder die paleisbeampte Hegai se sorg geplaas. Ester was ook onder hierdie groep meisies wat na die paleis toe gebring is. 9Hegai het van Ester gehou en het haar spesiaal behandel. Hy het dadelik met haar skoonheidsbehandeling begin en haar ook ’n spesiale dieet laat volg. Hy het haar na die beste deel van die vrouekwartiere toe geskuif en sewe van die paleis se beste kamerpersoneel uitgesoek om haar te versorg. 10Op Mordegai se advies het Ester vir niemand iets van haar agtergrond of herkoms vertel nie. 11Mordegai het elke dag by die binnehof van die vrouekwartiere ’n draai gemaak om te hoor hoe dit met Ester gaan en wat van haar gaan word.
12Die skoonheidsbehandeling wat die meisies moes ondergaan, het twaalf maande geduur. Hulle is vir ses maande met mirreolie behandel en daarna vir nog ses maande met spesiale kruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna het elke meisie ’n beurt gekry om ’n nag by koning Ahasveros deur te bring. 13Wanneer dit ’n meisie se beurt was om na die koning toe te gaan, kon sy enige klere en juwele kies, net wat sy wou, om haar skoonheid nog verder te beklemtoon om die koning te beïndruk. 14Sy is in die aand na die koning toe gevat. Die volgende môre is sy dan na ’n ander deel van die vrouekwartiere toe teruggeneem waar die koning se byvroue onder die toesig van Saägas gebly het. Hier sou sy nou vir die res van haar lewe bly en nooit weer na die koning se slaapkamer toe gaan nie, tensy hy so baie van haar gehou het dat hy spesifiek vir haar op haar naam laat vra het.
Ester word koningin
15Toe Ester, die dogter van Abigajil en die niggie van Mordegai, wat haar as sy eie dogter aangeneem het, se beurt kom om na die koning toe te gaan, het sy niks anders aangetrek as wat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer van die vrouekwartiere was, aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, het haar bewonder. 16In die tiende maand, genoem die maand Tebet, en in die sewende regeringsjaar van koning Ahasveros, is Ester na hom toe geneem in sy paleis. 17Die koning het meer van haar gehou as van enige van die ander meisies. Hy was so beïndruk met haar dat hy haar dadelik as koningin in Vasti se plek gekroon het. 18Om hierdie geleentheid te vier het die koning ’n groot onthaal ter ere van Ester gegee waarheen hy al sy hoë amptenare en ander mense wat in sy diens was, uitgenooi het. Hy het dit ook ’n openbare vakansiedag gemaak en geskenke aan die mense uitgedeel.
Mordegai red die koning se lewe
19Nadat al die jongmeisies na die ander deel van die vrouekwartiere toe is, is Mordegai in ’n administratiewe posisie aangestel. 20Ester het nog steeds niks oor haar agtergrond of haar herkoms gesê nie. Sy het nog na Mordegai geluister soos voorheen toe sy deel was van sy huisgesin. 21Gedurende die tyd wat Mordegai in diens van die koning was, het Bigtan en Teres, twee van die koning se persoonlike lyfwagte, kwaad geword vir koning Ahasveros en planne beraam om hom te vermoor. 22Mordegai het daarvan te hore gekom en dit vir koningin Ester vertel. Ester het op haar beurt vir die koning vertel wat Mordegai uitgevind het. 23’n Ondersoek het toe aan die lig gebring dat Mordegai die waarheid praat. Die twee skuldiges is dadelik gehang. Die koning het opdrag gegee dat hierdie gebeurtenis amptelik as deel van die geskiedenis van sy regeringstyd opgeteken moes word.
Tans Gekies:
Ester 2: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.