Eksodus 3

3
Moses ontmoet God by Horeb
1Moses het sy skoonpa, Jetro, se vee opgepas. Jetro was die man in Midian wat vir die Here gewerk het. Moses het toe met sy skoonpa se vee al dieper die woestyn in getrek. Hy het naderhand by God se berg uitgekom. Dit is die berg Horeb. 2Daar het hy ’n man gesien wat van God uit die hemel kom. Die man het binne-in ’n vuurvlam gestaan wat lyk of dit in ’n doringbos brand. Alhoewel dit gelyk het of die bos besig was om af te brand, het dit glad nie uitgebrand nie. 3Moses het vir homself gesê: “Ek wil ’n bietjie gaan kyk wat hier aangaan. Hoekom brand die doringbos dan nie uit nie?”
4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!”
Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.”
5Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort. 6Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.”
Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk.
Die Here gee Moses ’n opdrag
7Die Here het vir hom gesê: “Ek het mooi gesien hoe swaar my volk daar in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle skree omdat hulle soos slawe gedryf word. Ek het baie duidelik gesien hoe swaar hulle kry. 8Ek het nou gekom om hulle weg te vat uit die hande van die Egiptenaars. Ek gaan hulle uit daardie land laat wegtrek na ’n mooi en ’n groot land waar daar volop kos is. Dit is die plek waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly. 9Ek het tot in die hemel gehoor hoe die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien hoe die Egiptenaars hulle mishandel. 10Gaan terug Egipte toe. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.”
“Ek is wat Ek is”
11Moses het toe vir die Here gesê: “Wie is ék dan nou dat dit juis ek is wat na die farao toe moet gaan? En wie is ék dat ek die Israeliete uit Egipte moet uitlei?”
12Die Here antwoord hom: “Ek self sal saam met jou gaan. Wanneer jy die volk uit Egipte uitgelei het en hulle kom aanbid My by hierdie berg, sal dit die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.”
13Moses het vir God gesê: “Wanneer ek by die Israeliete aankom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle dadelik vir my vra: ‘En wie is Hy nou?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”
14“Ek is wat Ek is,” het God vir Moses gesê. “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het.”
15God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.”
Gaan konfronteer die farao
16“Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Ek het die Here, die God van julle voorouers, die God van Abraham en Isak en Jakob, by die doringbos ontmoet. Hy het gesê: ‘Ek het goed na julle probleem gekyk. Ek het gesien wat daar alles met julle in Egipte gedoen word. 17Ek het besluit dat Ek julle sal laat wegtrek van die swaarkry in Egipte. Ek sal julle laat trek na ’n land waarin daar volop kos is. Dit is die land waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik woon.’ 18Die leiers van Israel sal aanvaar wat jy vir hulle sê.
“Jy moet dan saam met hulle na die koning van Egipte toe gaan. Julle moet vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het na ons toe gekom. Gee tog vir ons kans om vir drie dae lank weg te gaan. Ons wil graag in die woestyn vir die Here ons God offers gaan bring.’ 19Ek weet goed dat die Egiptiese koning julle nie toestemming sal gee om te gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word. 20Daarom sal Ek ingryp en allerhande verskriklike dinge in die land laat gebeur. Eers nadat dit klaar gebeur het, sal hy instem om julle te laat gaan. 21Ek sal ook die houding van die Egiptenaars teenoor julle verander. Wanneer julle eendag uit die land wegtrek, moet julle nie sonder geskenke weggaan nie. 22Elke vrou moet haar buurvrou en die mense om haar wat van ander plekke kom, dwing om vir haar silwer en goue juweliersware en klere te gee. Julle moet dit vir julle kinders aantrek. So moet julle hulle terugkry vir wat hulle aan julle gedoen het. Julle moet Egipte kaal uittrek.”

Tans Gekies:

Eksodus 3: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan