Eksodus 37

37
Die ark met die bewys van die ooreenkoms
1Besaleël het die ark gemaak waarin die bewys van die ooreenkoms gekom het. Dit was van akasiahout. Dit was 115 sentimeter lank, en 70 sentimeter breed en hoog. 2Hy het dit aan die binne- en buitekant met suiwer goud oorgetrek. Aan die buitekant het hy ’n versierde goue rand gesit. 3Hy het vier goue ringe gemaak waardeur drastokke gesteek kon word. Hy het die ringe aan die onderste vier hoeke aan die lang kant van die ark vasgesit, sodat daar twee ringe aan die voorkant en twee ringe aan die agterkant was. 4Hy het daarby drastokke van akasiahout gemaak wat deur die ringe kon pas en hulle ook met goud oorgetrek. 5Hy het toe die drastokke deur die ringe van die ark gesit om dit daaraan te kan dra.
6Hy het ’n deksel uit suiwer goud gemaak wat op die ark pas. Dit was 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed. 7Hy het ook twee beelde van hemelse figure met vlerke uit goud gemaak. 8Hulle is bo-op die deksel vasgesit, aan die twee punte daarvan. 9Hulle gesigte was na mekaar toe en hulle het hulle vlerke oor die deksel uitgesprei gehou asof hulle dit beskerm.
Die tafel vir die brood
10Besaleël en sy mense het verder die tafel gemaak waarop die brode neergesit moes word. Dit was van akasiahout, 92 sentimeter lank en 46 sentimeter breed. Dit was 70 sentimeter hoog. 11Hulle het dit met suiwer goud oorgetrek en ’n goue rand reg rondom vasgesit. 12Daar is ook ’n lys reg rondom die tafel vasgesit waaraan daar ’n goue rand was. 13-14Hulle het ook vir die tafel vier goue ringe gemaak waardeur drastokke gesteek kan word. Hulle het die ringe aan die lang sye onder aan die hoeke, net onder die lys vasgesit. Daar kon twee stokke daardeur gesteek word om die tafel te dra. 15Hulle het die drastokke van akasiahout gemaak om deur die ringe te pas. Ook dié drastokke is met goud oorgetrek. 16Daarby het hulle die skottels en bakke waarin die geurige offers kom, en die flesse en komme wat by die tafel gebruik word, van suiwer goud gemaak.
Die ligstaander
17Besaleël-hulle het ook die goue ligstaander gemaak. Sy voetstuk en steel is uit een stuk goud gemaak. Dit is met blomkelke, blomknoppe en kroonblare versier. 18Ses arms het uit die steel gekom, drie aan die een en drie aan die ander kant. 19Aan elkeen van die ses arms wat uit die stam uitkom, was daar drie kelkies in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare. 20Aan die bokant van die steel self was daar vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare. 21Aan die onderkant van elkeen van die arms, net waar dit uit die steel kom, was daar ’n blomknop. 22Die arms en blomknoppe is alles uit een stuk goud gemaak.
23Hulle het ook sewe olielampe vir die kandelaar gemaak. Die tangetjie waarmee die vlammetjies uitgedoof word en die oliepithouer vir die lampies is van suiwer goud gemaak. 24Hulle het 34 kilogram suiwer goud gebruik om die staander en alles wat daarby hoort te maak.
Die altaartjie vir die wierook
25Onder Besaleël se toesig is ook die kleiner altaar uit akasiahout gemaak. Dit was vierkantig: 45 sentimeter breed en 90 sentimeter hoog. Dit het een geheel gevorm met sy horingagtige uitsteeksels. 26Alles, van die plat vlak bo-op en die vier sye, sowel as die horings, was met suiwer goud oorgetrek. Daar was ook ’n rand van goud reg rondom die altaar. 27Hy het twee stelle draringe van goud vir die altaar laat maak en hulle aan die twee teenoorstaande kante net onder die omranding vasgesit. Daardeur kon die drastokke gesit word waaraan die altaar gedra kon word. 28Ook die drastokke wat hiervoor gemaak is, is met suiwer goud oorgetrek. 29Besaleël het ook soos ’n goeie apteker ’n mengsel salfolie vir die tempel aangemaak.

Tans Gekies:

Eksodus 37: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan