Esegiël 4
4
Rig ’n teken op van die stad wat aangeval gaan word
1“Mens, gaan vat ’n baksteen. Sit die steen reg voor jou neer. Trek dan ’n kaart van die stad Jerusalem daarop. 2Maak nou of jy ’n vyand is wat teen die stad optrek en die stad probeer oorwin. Bou ’n kamp vir jou soldate buite die stad. Rig jou wapens op die stad. Val die stad aan. 3Vat dan ’n plaat wat van yster gemaak is en plaas die plaat tussen jou en die baksteen. Daar moet ’n muur van yster tussen jou en die stad wees. Kyk in die stad se rigting. Wys ook hoe die vyand die stad Jerusalem aanval. Laat jou optrede ’n waarskuwing aan Jerusalem wees oor wat op hulle wag: die vyand gaan hulle stad oorwin.
4“As jy hiermee klaar is, gaan lê op jou linkersy. Maak of jy al die sondes van jou volk Israel op jou neem. Jy gaan vir die hele tyd wat jy so lê Israel se sondes dra. 5Hulle het 390 jaar teen My gesondig. Gaan lê op jou linkersy vir 390 dae, ’n dag vir elke jaar. 6As jy daarmee klaar is, moet jy op jou regtersy gaan lê. Dan moet jy maak of jy die sondes van Juda op jou dra. Jy moet 40 dae so lê, want Juda het 40 jaar lank gesondig. Jy moet ’n dag vir elke jaar van sonde lê. 7En hou aan kyk na die vyand se aanval op Jerusalem. Praat ernstig met die stad oor sy sondes. Bring my boodskap na almal in die stad toe. 8Ek sal jou met toue vasbind sodat jy nie eens van jou een sy op die ander kan draai nie, totdat jy klaar die stad oorwin het.
9“Gaan kry nou eers genoeg kos. Sit dit in ’n skottel. En maak vir jou kos daarvan, so lank as wat jy op jou sy lê: 390 dae lank. 10Jy mag nie meer op ’n dag eet as wat Ek vir jou voorskryf nie. Jy moet dit deur die loop van die dag eet. 11Jy moet ook die water wat jy gedurende die dag drink, afmeet en nie méér drink as wat Ek vir jou voorskryf nie. 12Die kos wat jy byderhand hou, moet gebruik word om vir jou brood te maak. Die brood moet gaargemaak word op vuur wat met menslike uitwerpsel gemaak is. 13Jou optrede is ’n simbool van wat met die volk Israel gaan gebeur as hulle stad deur die vyand oorwin word. So gaan hulle ook onrein kos eet wanneer hulle as gevangenes weggevoer gaan word om tussen ander nasies te gaan woon.”
14Toe sê ek vir die Here: “Ag, Here my God, moet ek myself regtig gaan staan en vuil maak deur menslike uitwerpsel te gebruik? Ek het myself nog nooit in my hele lewe met sulke dinge vuil gemaak nie. Vandat ek ’n kind was tot nou het ek nog nooit ’n dier geëet wat van siekte gevrek het of wat dood in die veld gekry is nie. En ek het ook nog nooit enige dier geëet wat ons wet ons verbied om te eet nie.”
15“Goed,” sê die Here toe. “Jy mag jou brood op beesmis gaarmaak in plaas van op menslike uitwerpsel.” 16Die Here sê toe verder vir my: “Mens, die inwoners van Jerusalem gaan honger ly. Ek gaan sorg dat kos baie skaars word. Kos sal met ’n skaal geweeg word en mense sal dit met angstigheid eet. Selfs die water sal geweeg word, druppel vir druppel, so skaars gaan dit wees. En mense sal verslae wees terwyl hulle die water drink. 17Kos en water sal so skaars wees dat mense mekaar sal wantrou omdat hulle bang is iemand steel hulle voorraad. En dit sal wees omdat my oordeel op die volk rus oor hulle sondige dade en hulle opstandigheid.”
Tans Gekies:
Esegiël 4: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.