Esegiël 6

6
God oordeel Israel oor hulle sonde
1Toe het die Here weer met my gepraat. 2“Mens, kyk na die berge van Israel. Sê vir hulle wat Ek vir jou gaan sê. 3Jy moet sê: Berge wat in Israel se grondgebied is, hoor die woord van die Here, wat ook Esegiël se God is. So sê die Here vir die berge en heuwels, vir al die klowe en valleie wat daar in die berge is: Ek gaan oorlog laat aanbreek. Al die tempels vir vreemde gode wat op julle opgerig is, sal Ek laat verwoes deur die leërs van die vyand wat op julle sal kamp opslaan. 4Al die altare wat op julle opgerig is, sal vernietig word. Ook die altare waarop wierook vir heidense gode verbrand is, sal stukkend geslaan word. Ek sal die mense wat die heidense gode aanbid, voor die altare doodmaak. 5Ek sal die lyke van die Israeliete wat die afgode aanbid het, voor die afgode neergooi. Hulle bene sal rondom die altare vir hulle afgode gestrooi lê. 6Waar julle ook al bly, Israel, Ek sal julle gaan uithaal. Ek sal julle stede laat vernietig deur die vyand wat Ek stuur. Ek sal die hoë plekke waar julle afgode aanbid het, laat verwoes. Julle afgodsaltare en julle wierookaltare sal in stukke gebreek word. Daar sal niks oor wees van alles wat julle met soveel moeite vir julle afgode gebou het nie. 7Daardie dag wanneer julle lyke so tussen die verwoeste stede en altare rondlê, sal julle moet erken dat Ek die Here is.
8“’n Klompie van die mense sal die rampe oorleef wat Ek oor hierdie land bring. Hierdie groepie sal oor die hele wêreld tussen al die nasies moet gaan bly as gevangenes van hulle vyande. 9En dan, wanneer hulle as gevangenes in ’n vreemde land sit, sal hulle My skielik weer onthou. Hulle sal raaksien hoe seer hulle My gemaak het toe hulle ongehoorsaam aan My was en voor vreemde afgode gaan buig het en offers aan hulle gebring het. Dan sal hulle hulleself haat oor al die verkeerde dinge wat hulle aangevang het. 10Daardie dag sal hulle erken dat Ek alleen die Here is. En dan sal hulle weet dat Ek doodernstig was toe Ek voorspel het dat al hierdie verskriklike rampe oor hulle gaan kom.”
11So sê die Here, die God van Esegiël: “Slaan julle hande in skok saam. Snak na julle asem van skok. Roep uit; kerm en kla. Want die rampe wat vir Israel voorlê, is te verskriklik vir woorde. Mense gaan links en regs doodgemaak word in oorloë, deur hongersnood en deur dodelike siektes. 12Wie ver is, sal ’n dodelike siekte kry en doodgaan. Wie naby is, sal deur die vyand doodgemaak word. Wie oorbly en die siektes en oorloë oorleef, sal van die honger doodgaan. Dan eers sal my woede oor julle sonde bedaar. 13Dan, wanneer julle lyke tussen julle afgode en die altare vir julle afgode lê op al die plekke waar julle die afgode aanbid het, sal julle besef dat Ek alleen die Here is. Net Ek! 14Ek sal julle verpletter en vermorsel. Ek sal julle stede verlate plekke maak, plekke waar g’n lewende mens woon nie. Julle hele land sal verwoes en verlate bly lê. En dan sal Israel besef dat Ek regtig die Here is.”

Tans Gekies:

Esegiël 6: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan