Esra 5
5
Die werk word hervat
1In daardie tyd was daar twee mans wat in Jerusalem en Juda God se boodskap gebring het. Die een was Haggai. Die ander was Iddo se seun Sagaria. 2Hulle boodskappe het Serubbabel seun van Sealtiël en Jesua seun van Josadak aangevuur om weer die tempel van God in Jerusalem te begin bou. Hierdie mans van God het hulle hande sterk gemaak om dit te doen.
Tattenai se ondersoek namens die koning
3Tattenai was in daardie stadium die goewerneur van Wes-Eufraat. Hy het Setar-Bosnai en ander amptenare saam met hom Jerusalem toe gevat en met die Judeërs gaan praat. Hy het vir hulle gevra: “Wie het gesê julle mag aangaan om die tempel te bou en te probeer klaarmaak?” 4Hulle wou ook weet wat die name was van die mans wat aan die hoof was van die bouwerk. 5Maar God het die leiers van die Judeërs beskerm. Hy het gesorg dat die amptenare hulle toelaat om aan te gaan met die bouery terwyl hulle gewag het vir ’n antwoord op die brief wat hulle vir koning Darius geskryf het.
Tattenai se brief aan Darius
6Hier is nou ’n afskrif van die brief wat Tattenai, die goewerneur van Wes-Eufraat, saam met Setar-Bosnai en die ander Persiese amptenare vir koning Darius geskryf het. 7In die brief het gestaan:
Aan koning Darius. Ons groet die koning. 8Ons wil aan die koning rapporteer dat ons na die hoofstad van Juda gegaan het. Daar word in Jerusalem ’n tempel gebou van gekapte klip en houtbalke wat in die muur vasgesit word. Hulle werk hard. Die werk vorder vinnig. 9Ons het vir die voormanne by die werk gevra wie vir hulle gesê het hulle mag voortgaan om die tempel te bou en dit klaar te probeer maak. 10Ons het hulle gevra om vir ons die name van hulle leiers te gee sodat ons dit vir u kan gee.
11Hulle het ons geantwoord: “Ons aanbid die God van die hemel en die aarde. Ons is besig om ’n tempel vir Hom te bou. Die tempel is lank terug die eerste keer deur ’n groot koning van Israel gebou. 12Omdat ons voorouers die God van die hemel kwaad gemaak het, het Hy hulle uitgelewer aan die magtige Nebukadnesar, die Galdese koning van Babel. Hy het hierdie tempel afgebreek en die volk na Babel toe weggevat. 13Toe Kores koning oor Babel geword het, het hy reeds in die eerste jaar wat hy regeer het ’n besluit geneem dat hierdie tempel van God herbou moet word. 14Kores het die goue en silwergoed laat haal wat Nebukadnesar destyds uit die tempel in Jerusalem weggevat en saamgevat het na sy eie god se tempel in Babel. Hy het dit vir ’n man gegee wat hy as goewerneur aangestel het. Sy naam was Sesbassar. 15Die koning het gesê hy moet al hierdie goed gaan terugsit op hulle plek in die tempel in Jerusalem sodra die tempel weer gebou is op die plek waar dit vroeër gestaan het. 16Sesbassar het toe gekom en die tempel in Jerusalem begin herstel. Van daardie tyd af tot nou toe gaan die bouery aan, maar dit is nog nie klaar nie.”
17As dit dan vir u goed is, kyk ’n bietjie daar in die konings se geskiedenisse in Babel of hulle die waarheid praat as hulle sê dat Kores besluit het om die tempel in Jerusalem te herbou. Laat ons asseblief weet wat u oor hierdie saak besluit het.
Tans Gekies:
Esra 5: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.