Haggai 2
2
Die nuwe tempel sal mooier as die ou een wees
1Op 17 Oktober van dieselfde jaar het die Here weer vir Haggai ’n boodskap vir die volk gegee. 2Hy het gesê: “Vra tog vir Serubbabel, Jesua en die mense wat weer in Juda kom bly het, die volgende vraag: 3Hoeveel is daar van julle wat die eerste tempel gesien het toe dit nog ’n pragtige gebou was? Hoe lyk die gebou nou vir julle? Totaal en al na niks!” 4Maar nou sê die Here vir Serubbabel dat hy en Jesua en die hele volk moed moet skep en aan die tempel moet begin werk. Die Here wat alle mag tot sy beskikking het, beloof dat hulle op sy hulp kan staatmaak. 5Hy sê: “Toe julle uit Egipte gevlug het, het Ek belowe dat my Gees altyd saam met julle sal wees. Daarom moet julle nie nou bang wees nie!”
6Die Here sê: “As die hemel, die aarde, die see en die droë grond weer op ’n keer skud en bewe, sal julle weet dat Ek by julle is. Dit sal julle daaraan herinner. 7Ek sal al die nasies se regerings laat ondergaan. So sal hulle kosbare skatte in die tempel beland. Ek sal hierdie huis van My ’n plek maak wat mense sal bewonder. Hulle sal aanvoel dat Ek daar is in my grootheid. 8Maar daar is nog iets wat julle moet weet: dit is dat al die silwer en die goud op aarde in elk geval Myne is. 9Mense sal in die toekoms hierdie tempel wat nuut gebou is, nog meer bewonder as die oorspronklike een. In hierdie land waar my huis staan, sal my volk vrede en voorspoed geniet. Ek sal daarvoor sorg!”
Onreinheid steek aan
10Op 18 Desember 520 v.C., weer in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here nog ’n opdrag vir Haggai gegee. 11Hy moes na die priesters toe gaan met ’n probleemvraag en hulle moes die antwoord gee. 12Die probleem was die volgende: “Sê nou maar iemand dra ’n stuk vleis wat aan die Here geoffer is in sy jas en hy raak per ongeluk met sy jas aan ander kos, soos brood, gekookte kos, wyn of olie, of enige ander soort kos. Sal dit dan beteken dat hierdie ander kos nou ook aan die Here toegewy is soos dit die geval met die vleis is?”
Die priesters het nie getwyfel nie en het geantwoord: “Nee.”
13Toe vra Haggai verder: “As iemand besmet is omdat hy aan ’n lyk gevat het en hy raak nou aan al hierdie kos wat genoem is, is die kos dan nou ook vuil?”
Die priesters se antwoord op die vraag was: “Ja.”
14Toe het Haggai begin verduidelik wat die Here wou hê sy volk moet verstaan. Hy het gesê: “Die mense is vuil en besmet. My volk is vuil en besmet. Alles wat hulle doen en waaraan hulle raak, is besmet.”
’n Belofte dat dit goed sal gaan
15“Van vandag af moet julle bly onthou hoe dit in die verlede gegaan het. Voordat julle begin bou het aan die huis van die Here, het niks volgens plan verloop nie. 16Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry. 17Maar al was dit ook so dat siektes en hael julle oeste geslaan het, het julle julle nogtans nie aan die Here gesteur nie.
18“‘Vandag, die agtiende Desember, is die dag waarop die fondasie van die tempel gelê is. Dit is ’n keerpunt. Van hier af aan gaan dinge vir julle verander, daarop kan julle reken. 19Dit is so, daar is nie meer saad in julle skure oor nie. Daar is ook nie vrugte aan julle wingerde, vyebome, granaatbome en olyfbome nie. Maar Ek beloof julle, van nou af sal Ek sorg dat dit met julle goed gaan,’ sê die Here.”
20Op die agtiende Desember het die Here nog ’n boodskap vir Haggai gegee. 21Hy moes vir Serubbabel sê dat die Here die hemel en die aarde deur ’n aardbewing gaan skud. 22Verder gaan Hy ook koninkryke laat ondergaan en hulle mag van hulle af wegneem. Niks sal van volke se wapentuig en soldate oorbly nie en hulle perderuiters sal mekaar afmaai. 23Die Here sê wanneer al hierdie dinge gaan gebeur, gaan Hy Serubbabel gebruik. Hy het hom uitgekies om ’n leier te wees en daarom gee Hy aan hom gesag soos wat ’n koning het, want die Here wie se mag sonder perke is, het gesê dit is wat Hy gaan doen.
Tans Gekies:
Haggai 2: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.