Jesaja 27

27
Israel sal herstel word
1Op daardie dag sal die Here sy gevaarlike, skerp swaard gebruik om die vyand te straf, die kronkelende waterslang wat in die diepsee woon, die seemonster. 2Dan sal Hy hierdie lied oor Israel sing: Sing van Israel, my pragtige wingerd! 3Ek, die Here, sorg self vir my wingerd. Ek lei dit gereeld nat sodat die lote nie verlep nie. Ek hou dag en nag daar wag sodat niemand dit kan beskadig nie. 4Ek is nie meer kwaad vir my wingerd nie. As my volk se vyande kom en soos dorings en onkruid probeer om my wingerd toe te groei, sal Ek hulle verbrand. 5Slegs as hulle met My vrede maak en by My beskerming soek, sal hulle gespaar word.
6In die toekoms sal Jakob se nageslag wortelskiet soos ’n boom. Israel sal bloeisels maak en vrugte dra wat vir die hele wêreld voordeel sal inhou. 7Het die Here Israel ooit so swaar gestraf soos Hy haar vyande gestraf het? Nee, want haar vyande het Hy uitgeroei, 8maar vir Israel het Hy die straf baie ligter gemaak. Hy het hulle vir ’n ruk in ballingskap laat gaan, byna asof hulle deur ’n wind na die ooste toe gewaai is. 9Deur hierdie lyding sal daar versoening kom vir Israel se sonde. Maar eers as Israel al hulle afgodsaltare afbreek en die klippe fynmaal tot stof en daar geen wierookaltare of vroulike afgodspale oorbly nie, sal al hulle sonde vergewe word.
10Die versterkte stede lê verlate en stil, die huise staan leeg en die strate is toegegroei met gras. Daar sal vee in strate wei en aan die takkies en grassies vreet en in die skaduwee van die struike lê en herkou. 11Die takke verdroog aan die bome en die vroue breek dit af vir vuurmaakhout. Israel verstaan niks; daarom het hulle nie teruggekeer na die Here toe nie. Dit is waarom God, wat hulle gemaak het, hulle nie meer jammer kry of Hom oor hulle ontferm nie. 12Maar daar kom ’n tyd waarop die Here die Israeliete weer bymekaar sal maak, van die Eufraat af tot by die stroom wat die grens met Egipte vorm. Hy sal hulle een vir een gaan haal soos wanneer ’n mens in die oestyd die koring en die kaf van mekaar skei en dan die koringkorrels sorgvuldig bymekaarmaak. 13Op daardie dag sal daar op ’n groot trompet geblaas word. Dan sal almal wat na Egipte toe verjaag is en almal wat in Assirië verlore geraak het, weer terugkom na hulle eie land toe. Dan sal hulle die Here die Almagtige weer op sy heilige berg in Jerusalem aanbid.

Tans Gekies:

Jesaja 27: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan