Jesaja 35
35
Hoop op herstel
1In daardie dae sal selfs die woestyn ’n mooi plek wees. 2Dit sal oortrek wees met die mooiste blomme. Die woestyn sal vol groot, groen bome wees soos dié wat op die Libanonberge groei. Daar sal wingerde groei wat enige tyd net sulke goeie druiwe sal dra soos dié van die Karmelberg-omgewing met landerye wat selfs vrugbaarder is as dié van die Saronvlakte. Dit sal die Here se manier wees om sy invloed in hierdie wêreld te wys sodat almal kan weet wie Hy is. 3Hierdie nuus is bedoel om mense wat moedeloos geword het, op te beur; om dié wat voel dat hulle net nie verder kan nie omdat alles net te veel geword het, moed in te praat sodat hulle met nuwe oë na die toekoms kan kyk. 4Gaan sê vir dié wat bang is hulle moet op die Here vertrou en hulle nie oor alles bekommer nie. Die Here is op pad om hulle vyande die les van hulle lewe te leer, en wanneer Hy daarmee klaar is, sal Hy sy mense se omstandighede verander.
5Van die gevolge hiervan sal wees dat blinde mense sal kan sien en dat dowe mense sal kan hoor. 6Die verlamde mense wat weer kan loop, sal rondhuppel en spring soos wildsbokke. Mense wat voorheen stom was, sal sing van blydskap. Die woestyn sal ’n paradys word met volop fonteine en riviere. 7Die droë modderpanne wat so deur die son gebak is dat alles verskroei en uitgedroog was, sal in waterryke mere verander. Oral sal fonteine uit die grond uit opborrel waarby mense sou kon rus en water drink. Waar daar voorheen net sand en klippe was waar die jakkalse hulle gate kon grawe en waar geen ander mens of dier gekom het nie, gaan die hele omgewing verander. Daar sal soveel water wees dat daar watergras, riete en biesies sal groei.
8Daar sal ’n grootpad deur die gebied loop wat voorheen ’n woestyn was. Hierdie pad is bedoel vir mense wat ’n verhouding met die Here het en wat reg lewe. Mense wat God nie ernstig opneem nie, sal nooit die reg hê om hierdie pad te gebruik nie. 9Daar sal nie gevare op die pad wees nie, want die Here het dit spesiaal vir sy kinders gebou sodat hulle veilig en maklik by Hom kan uitkom. 10Hierdie kinders van wie daar gepraat word, is die mense wat deur die Here vrygekoop is van hulle ou slawelewe. Hulle sal vrolik en opgeruimd met hierdie pad na Jerusalem toe terugkom. Hulle hartseer en swaarkry sal iets van die verlede wees.
Tans Gekies:
Jesaja 35: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.