Jesaja 44:6-20

Jesaja 44:6-20 DB

Die Here is Israel se koning. Die Here wat die hemelse leërmag aanvoer, sal Israel bevry. Hy sê: Ek is God van ewigheid af tot in ewigheid. Daar is nie ’n ander God behalwe Ek nie. As iemand dink dat hy soos Ek is, moet hy dit sê. Hy moet dit kom bewys. Hy moet kom sê wat in die verlede met my volk gebeur het. Hy moet ook sê wat nog alles met hulle gaan gebeur. Moenie skrik nie. Hou op om bang te wees. Ek het mos lankal al vir julle gesê wat gaan gebeur. Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander god behalwe Ek nie. Ek weet van niemand anders op wie julle kan vertrou nie. Dié wat afgodsbeelde maak, is niks werd nie. Hulle gunstelinggode bring vir hulle geen voordeel nie. Dié wat hulle gode verdedig, is blind en onnosel. Hulle gaan nog baie skaam kry. Wie is dan so dom om ’n afgodsbeeld te maak wat vir jou niks bring nie? Elkeen wat afgodsbeelde maak, gaan maar sleg daarvan afkom. Dit is goed wat deur mense gemaak is. As hulle bymekaarkom en voor die beelde kom staan, gaan hulle geskok wees en skaam kry vir wat hulle doen. Die smid werk met sy gereedskap en bewerk die yster in die vuur. Hy vorm die beeld met sy hamer op die aambeeld. Met sy gespierde arm slaan hy dit in die vorm wat hy dit wil hê. Maar hy is ook maar net ’n mens. Hy word ook maar honger en moeg. As hy nie water drink nie, raak hy ook maar uitgeput. Die kunstenaar wat met hout werk, meet ’n stuk hout af en merk die buitelyne daarop uit met ’n potlood en ’n passer. Hy gebruik sy beitel en kerf uit die hout iets wat soos ’n mens lyk. Dit word ’n pragtige beeld wat lyk soos ’n mens wat in ’n huis woon. Die hout wat hy gebruik, kom van ’n sederboom wat hy afgekap het. Hy kon ook ’n sipresboom of eikeboom gevat het. Hy laat vir hom bome in die bos grootword. Hy plant hulle en wag dat die reën hulle grootmaak. Wanneer hy dit afkap, gebruik die mens die hout om vuur te maak. Hy maak homself daarmee warm, of hy gebruik dit vir die vuur waarmee hy brood bak. Maar hy gebruik van dieselfde hout om vir hom ’n god te maak waarvoor hy buig. Hy maak daarvan ’n afgodsbeeld en dan gaan buig hy in aanbidding voor die beeld. Met die een helfte maak hy vuur. Hy braai vleis daarop en eet tot hy versadig is. Hy sit by die vuur om homself warm te maak. Hy sê ewe tevrede: “Ai, ek kry nou lekker warm. Dis lekker hier by die vuur.” Van die hout wat nog oor is, gaan maak hy dan vir hom ’n afgodsbeeld. Hy buig voor die beeld neer en aanbid dit. Hy bid tot die beeld en hy sê: “Jy is my god. Jy moet my red!” Hulle verstaan glad nie wat hulle besig is om te doen nie. Hulle oë is bottoe. Hulle sien en verstaan glad nie wat besig is om met hulle te gebeur nie. Dit kom nie eens by hulle op om ’n oomblik na te dink en vir hulleself te sê nie: “Ek het dan met die een helfte vuur gemaak om brood te bak en vleis gaar te maak, hoe kan ek nou die ander helfte gebruik om ’n afgod van te maak? Ek bid mos nou tot ’n stuk hout!” Iemand wat hom ophou met hout wat verbrand het, kan nie meer mooi dink nie. Hy kan nie meer op ’n afstand gaan staan en vir homself vra: “Is ek nie besig om myself te bedrieg as ek so maak nie?”