Rigters 10

10
Tola en Jaïr
1Na Abimelek se dood het Tola seun van Puwwa, die kleinseun van Dodo, tot Israel se redding gekom. Hy was ’n lid van die stam Issaskar en het in die dorp Samir in die berge van Efraim gebly. 2Hy was 23 jaar lank die leier van Israel. Na sy dood is hy in Samir begrawe.
3Na Tola se dood het Jaïr uit Gilead 22 jaar lank as leier in Israel opgetree. 4Jaïr het 30 seuns gehad wat elkeen op ’n jong donkie rondgery het. Hulle het ook 30 dorpe in die gebied van Gilead gehad wat steeds bekend staan as die tentdorpe van Jaïr. 5Na sy dood is Jaïr in Kamon begrawe.
Die Ammoniete verdruk Israel
6Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Hulle het die Baäls en die Astartes asook die gode van Sidon en dié van die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne aanbid. Hulle het die rug vir die Here gedraai en Hom glad nie meer gedien nie. 7Die Here het kwaad geword vir die Israeliete en hulle oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete. 8Van toe af het die Ammoniete die Israeliete in Gilead, oos van die Jordaan, agtien jaar lank laat swaarkry en hulle erg mishandel. 9Die Ammoniete het selfs die Jordaanrivier oorgesteek en teen die stamme van Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak. Israel was in groot moeilikheid. 10Uiteindelik het die Israeliete tot die Here gebid. Hulle het vir Hom gesê: “Ons het teen U gesondig, want ons het die rug vir U, ons God, gedraai en die Baäls aanbid.”
11Die Here antwoord hulle: “Toe die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne, 12die mense van Sidon, Amalek en Maon julle laat swaarkry het, het julle my hulp gevra en Ek het julle gehelp. 13Ten spyte daarvan het julle nou weer die rug vir My gedraai en ander gode aanbid. Daarom gaan Ek julle nie weer help nie. 14Gaan huil by die gode wat julle vir julle uitgesoek het. Laat hulle julle help noudat julle in die moeilikheid is.”
15Die Israeliete het by die Here bly pleit en vir Hom gesê: “Ons het sonde gedoen! Doen met ons net wat U wil, maar red ons asseblief vandag!” 16Hulle het ontslae geraak van die ander gode en weer die Here aanbid. Die Here is deur hulle lyding aangeraak.
17Op daardie tydstip het die Ammonitiese weermag gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het in Gilead kamp opgeslaan. Die Israeliete het ook vir oorlog gereedgemaak en hulle kamp by Mispa opgeslaan. 18Die leiers van Gilead het vir mekaar gesê: “Wie gaan ons soldate in die oorlog teen die Ammoniete lei? Hy moet in elk geval dan die leier van al Gilead se mense word.”

Tans Gekies:

Rigters 10: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan