Rigters 7
7
Gideon verslaan die Midianiete
1Jerubbaäl, dit is nou Gideon, en sy soldate het een oggend vroeg opgestaan en tot by die fontein van Garod getrek, waar hulle kamp opgeslaan het. Die Midianiete se kamp was net noord daarvandaan in die vallei naby die koppie met die naam Moreh.
2Toe sê die Here vir Gideon: “Jy het te veel soldate by jou. As Ek jou toelaat om met so baie soldate teen die Midianiete te veg, sal die Israeliete later spog dat hulle sterk genoeg was om op hulle eie die oorwinning te behaal. 3Daarom moet jy vir die manskappe by jou sê: “Dié wat bang en onseker is, moet eerder teruggaan huis toe.” Toe het 22 000 besluit om huis toe te gaan. Daar het net 10 000 soldate oorgebly.
4Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel soldate! Vat hulle af na die fontein toe, daar sal Ek hulle vir jou skei. Ek sal vir jou wys wie moet saamgaan en wie moet bly.” 5Gideon is toe met sy soldate af fontein toe. Toe hulle daar kom, sê die Here vir hom: “Deel die soldate in twee groepe. Maak ’n eerste groep uit al die soldate wat soos ’n hond water drink deur dit met die tong uit hulle hande op lek. Maak ook ’n tweede groep van al die soldate wat op hulle knieë gaan staan en water drink.” 6Drie honderd soldate het die water met hulle hande uitgeskep en so gedrink. Die res van hulle het op hulle knieë gaan staan om te drink. 7Toe sê die Here vir Gideon: “Met hierdie 300 soldate wat die water met hulle hande opgeskep het om te drink gaan Ek jou help en die Midianiete verslaan. Stuur die res van die manne huis toe.” 8Gideon het al die kos, trompette en ander nodige middels by hierdie soldate gevat en hulle toe huis toe gestuur. Uiteindelik was dit net hy en die 300 ander soldate wat oorgebly het.
Die Midianiete se kamp was in die vallei net onder hulle. 9Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op! Val die Midianiete se kamp aan, want ek gee hulle in jou mag oor. 10Maar as jy dalk bang is om hulle aan te val, vat jou dienaar Pura en gaan saam met hom na hulle kamp toe. 11Gaan luister ’n bietjie wat hulle te sê het. Dit sal jou laat moed skep. Daarna sal jy bereid wees om hulle aan te val.” Gideon en Pura is toe daar weg en het tot by die kant van die Midianiete se kamp gekruip. 12Die soldate van die Midianiete, die Amalekiete en die mense uit die ooste was so baie dat hulle soos ’n swerm sprinkane daar in die vallei gelyk het. Hulle kamele was so baie soos die sandkorrels van die see, te veel om te tel.
13Gideon het net betyds daar aangekom om te hoor hoe iemand vir sy vriend van sy droom vertel. “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in die kamp ingerol. Dit het tot teen die tent gerol en dit omgestamp en inmekaar laat val.”
14Sy vriend het gesê: “Dit kan net een ding beteken. God het die Midianiete en hulle hele leër in die mag van die Israeliet Gideon die seun van Joas oorgegee!”
15Toe Gideon die droom en die betekenis daarvan hoor, het hy vir die Here dankie gesê. Hy is toe terug kamp toe. Daar aangekom, het hy vir die Israeliete gesê: “Kom, die Here het klaar vir ons die oorwinning oor die Midianiete gegee.”
16Gideon het die 300 soldate in drie groepe gedeel. Hy het vir elke soldaat ’n trompet en ’n leë kleipot met ’n fakkel daarin gegee. 17Toe sê hy vir hulle: “Hou my dop. Sodra ek by die grens van die kamp kom, moet julle presies doen wat ek doen. 18As ek en die groep by my op ons trompette blaas, moet julle ander wat reg rondom die kamp is, dit ook begin doen en skree: ‘In die Naam van die Here en Gideon!’”
19Dit was net na middernag, na die wagte omgeruil het, toe Gideon en die 100 soldate saam met hom by die grens van die kamp aankom. Hulle het skielik op hulle trompette geblaas en die kleipotte stukkend gebreek. 20Die ander twee groepe het presies dieselfde gedoen. Hulle het hulle fakkels in hulle linkerhand vasgehou en hulle trompette in die regterhand en hard geskree: “Die swaard vir die Here en vir Gideon!”
21Gideon se soldate het almal op hulle plekke rondom die kamp bly staan en kyk hoe die vyandelike soldate doodbang weghardloop. 22Want terwyl Gideon se soldate op hulle trompette geblaas het, het die Here die vyand se soldate onder mekaar laat baklei. Dié wat nie in hierdie geveg dood is nie, het in die rigting van Sereda tot so ver as Bet-Sitta gevlug en ander weer tot by die grens van Abel-Megola, naby Tabbat.
23Gideon het die soldate van die stamme Naftali en Aser en die hele Manassestam opgeroep om die vlugtende Midianiete te agtervolg. 24Hy het ook boodskappers na die bergagtige gebied van Efraim toe gestuur met die opdrag: “Kom af en val die Midianiete aan. Sny hulle af by die vlak dele van die Jordaanrivier tot by Bet-Bara sodat hulle nie kan ontsnap nie.” Die soldate van Efraim het dit gedoen. 25Hulle het die twee Midianitiese generaals, Oreb en Seëb, gevange geneem. Vir Oreb het hulle by die rots van Oreb doodgemaak en vir Seëb by die parskuip van Seëb. Hulle het die Midianiete verder agtervolg. Daarna het die soldate van Efraim die koppe van Oreb en Seëb vir Gideon gebring waar hy aan die westekant van die Jordaanrivier was.
Tans Gekies:
Rigters 7: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.