Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Die mense van Juda en Jerusalem het teen My in opstand gekom. Hulle doen nou dieselfde verkeerde dinge as wat hulle voorouers gedoen het. Hulle wil nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Verder het hulle ook afgode begin vereer. Israel en Juda het nie die ooreenkoms nagekom wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Omdat hulle so maak,” sê die Here, “sal ’n ramp hulle tref. Daar is nie ’n manier dat hulle dit sal vryspring nie. Al bid hulle dat Ek hulle moet help, Ek sal nie na hulle luister nie. Die mense van die stede van Juda en Jerusalem sal dan hulle afgode smeek om hulle te help. Hulle sal selfs wierook vir die afgode brand om hulle guns te wen. Die afgode sal hulle nie uit die moeilikheid help as die ramp hulle tref nie. Juda, julle het net soveel afgode as wat julle stede het. Julle het ook op baie plekke klippe opgestapel waarop julle wierook vir die skandelike afgod Baäl kan brand. Daar was amper soveel plekke as wat daar strate in Jerusalem is.” Die Here het vir Jeremia gesê: “Jeremia, jy moenie meer vir die mense van Juda en Jerusalem bid nie. Dit sal nie help dat jy by My pleit of bid nie, want Ek sal nie luister as hulle in die moeilikheid is en My roep om hulle te help nie. Ek is baie lief vir my mense. Maar watter reg het hulle om in die tempel te kom as hulle hulle tevore hier so sleg gedra het? Dink hulle enigsins dat hulle met beloftes en offers die ramp kan keer? Eintlik geniet hulle dit om verkeerd te doen!” Die Here het gesê: “Daar was ’n tyd toe Ek julle ’n pragtige groen olyfboom genoem het. Mooi om te sien en vol goeie vrugte. Maar in ’n groot storm sal die weerlig die boom brand en al die takke verskroei. Die Here is sterker as alles en almal. Hy het Israel en Juda soos hierdie olyfboom geplant. Hy sal sorg dat hulle vernietig word. Die mense van Israel en Juda het slegte dinge gedoen. Hulle het My kwaad gemaak, want hulle het wierook vir Baäl gebrand om in sy goeie boekies te kom.” Dit was eers toe die Here my dit vertel het dat ek besef het my vyande was besig om planne teen my te maak. Ek was soos ’n lam wat op pad was na die slagpale om geslag te word, salig onbewus van wat aan die gang was. Hulle was van plan om my dood te maak. Hulle het gesê: “Kom ons raak ontslae van hierdie man, dan is ons ook ontslae van die dinge wat hy sê! Kom ons maak hom dood, dan sal niemand ooit onthou dat hy geleef het nie!” Here, U is sterker as alles en almal. U tree altyd regverdig op. Ja, Here, U weet presies wat binne-in ’n mens aangaan. U weet selfs wat ons dink. Ek wil graag sien wat gebeur as U wraak neem op my vyande. Ek het my saak vir U gegee om te hanteer. Die Here sê oor die mense van Anatot: “Hulle wil jou doodmaak, Jeremia. Dit is omdat jy namens My praat. Hulle sê hulle sal jou doodmaak as jy nie ophou om dit te doen nie.” Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Ek gaan hulle straf! Die jongmans sal in gevegte met ’n vyand doodgemaak word. Hulle kinders sal van die honger doodgaan. Nie eens een van hulle sal bly lewe nie. Ek sal die mense van Anatot baie slegte dinge laat ervaar wanneer Ek hulle straf. Ek het reeds besluit wanneer dit sal wees.”
Lees Jeremia 11
Deel
Vergelyk alle weergawes: Jeremia 11:9-23
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's