Jeremia 17
17
Juda se straf
1Die Here sê: “Die sonde wat die mense van Juda gedoen het, is in hulle hart en op hulle altare gegraveer. Dit is so permanent soos ’n mens iets met ’n beitel of diamantpunt sou uitkap. 2Selfs die kinders onthou die altare van hulle voorouers. Ook die pale wat hulle by die groen koeltebome geplant het, op byna elke hoë heuwel 3en op die berge en in die vlaktes. Julle het die hele land deur sulke hoë plekke gebou om afgode te aanbid. Daarom sal Ek al julle rykdom en julle kosbare besittings vir die vyand gee om te steel. Dit is die prys wat julle moet betaal vir die sonde wat julle oral deur julle land gedoen het. 4Ek het die land vir julle as ’n kosbare besitting gegee. Dit sal uit julle hande glip en julle sal dit verloor. Ek sal julle wegstuur uit julle land na ander vreemde lande waar julle vir julle vyande soos slawe sal werk. Julle het My baie kwaad gemaak. My woede brand soos ’n vuur wat net aanhou brand en nooit ophou nie.”
Verstandige mense
5Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met iemand wat nie op My vertrou nie, maar op ander mense. Mense is ook maar net vleis en bloed. Die een of ander tyd gaan hulle dood. 6So iemand is soos ’n bossie in die droë veld. Die bossie staan in ’n droë deel van die woestyn, in dooierige grond. Dit is ’n gebied waar niemand regtig kan bly nie. Die toekoms lyk glad nie goed vir so ’n mens nie. 7Maar dit sal goed gaan met mense wat My vir alles vertrou. Dit gee hulle moed vir die toekoms. 8Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels gaan ver af tot by die water. Sulke bome kry nie swaar as dit baie warm word nie. Hulle blare bly groen. Lang maande waarin dit baie droog is, is ook nie regtig ’n probleem nie. Hulle hou steeds aan vrugte dra.
9“Daar is niks wat jou so kan kul as die mens se hart nie. Niemand weet wat binne ’n mens aangaan nie. Niemand kan ook iets daaraan doen om ’n mens se hart te verander nie. 10Maar Ek is die Here, Ek weet! Ek ondersoek ’n mens se hart en gedagtes. Ek weet wat elkeen se motiewe is. Ek kyk na wat elkeen gedoen het en dan betaal Ek hulle wat hulle behoort te kry.
11“Mense wat op ’n oneerlike manier ryk word, is net soos ’n fisant wat eiers uitbroei wat sy nie gelê het nie. In ’n stadium sal hulle al hulle geld en skatte verloor. Aan die einde van hulle lewe sal hulle niks anders as arm gekke wees nie!”
12Ons tempel is reg van die begin af soos ’n pragtige troon. Dit staan hoog uit. 13Here, Israel se hoop vir die toekoms is van U afhanklik. As enige van Israel se mense dislojaal aan U sou wees, sal hulle verneder word. As hulle die rug vir U sou draai, is die dood hulle voorland. U, Here, is soos ’n fontein waaruit mense drink sodat hulle kan lewe. Nogtans het die mense van Israel van U af weggegaan.
Jeremia se gebed
14Ek het gebid: “Here, U is die enigste een wat my gesond kan maak. U alleen kan my red sodat ek veilig kan wees. Ek wil net vir U alleen die eer gee deur mooi dinge van U te sê. 15Die mense vra my: ‘Wat het geword van die danige boodskap wat jy by die Here gekry het? Laat dit nou gebeur!’ 16Here, ek het nie by U aangehou om hulle te straf nie. Ek het ook nie gewens dat hulle slegte goed moet oorkom nie. Dit is nie ’n boodskap wat ek self uitgedink het nie, dit is u boodskap wat ek vir hulle gegee het. 17Moenie nou veroorsaak dat ek vir U bang moet wees nie. Ek vertrou heeltemal op U dat U my sal help as ek in die nood is. 18Here, laat mense wat my vervolg die slegste daarvan afkom. Laat dit asseblief met my goed gaan. Laat hulle die mense wees wat bang is, nie ek nie. Laat slegte goed hulle tref, sommer ’n dubbele dosis daarvan!”
Rus op die sewende dag van die week
19Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by al die hekke waar mense in- en uitgaan by Jerusalem. Ja, ook by die hek wat ‘die mense se hek’ genoem word. Dit is die hek wat die konings van Juda gebruik as hulle by Jerusalem wil in- en uitgaan. 20Sê daar vir die mense wat die hekke gebruik, konings, die mense van Juda en ook die mense wat in Jerusalem bly: ‘Hoor wat die boodskap van die Here vir julle is. 21Hy sê: Luister, wat Ek te sê het, is lewensbelangrik! Ek het opdrag gegee dat julle die sewende dag van die week as ’n rusdag moet hou. Daarom moet julle ophou om op hierdie dag die goed waarmee julle handel dryf, by die hekke rond te dra. 22Moenie op hierdie rusdag goed uit julle huise dra nie. Julle moet ook nie enige werk doen nie. Maak dit ’n dag wat julle ter wille van My uitsonder soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.’ 23Maar hulle voorouers wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou niks doen wat Ek vir hulle voorgeskryf het nie.”
24Maar die Here sê: “Julle weet wat Ek wil hê. Julle moet My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die rusdag nie. Julle moet ook nie op dié dag werk nie, maar dit spesiaal eenkant hou ter wille van My. 25As julle dit doen, sal daar ’n goeie toekoms vir julle wees. Daar sal altyd ’n koning in Jerusalem regeer wat deel is van die familielyn van Dawid. Die konings en prinse sal by die hekke van Jerusalem ingaan. Hulle sal op koetse en perde ry en tussen die mense van Juda wees. Daar sal ook altyd mense wees wat in Jerusalem sal bly, ook in die toekoms. 26Baie mense sal uit die stede van Juda na Jerusalem toe kom. Ook van die mense in die omgewing van Jerusalem. Dit sluit nou mense in van die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide. Hulle sal met allerhande offers en wierook wat hulle aan die Here wil toewy, na die huis van die Here toe kom. Op so ’n manier wil hulle vir Hom dankie sê. 27Maar as julle weier om die sewende dag as ’n rusdag ter wille van My te hou en aanhou om op dié dag julle handelsware rond te dra, sal Ek die hekke van Jerusalem aan die brand steek. Die vuur sal van die hekke af na die paleise versprei. Daar sal niemand wees wat dit sal regkry om die vuur te blus nie.”
Tans Gekies:
Jeremia 17: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.