Jeremia 21

21
Gee oor en lewe
1Die Here het weer vir Jeremia gesê wat hy moes praat. Dit was toe koning Sedekia vir Pasgur, die seun van Malkija, en Sefanja, die seun van Maäseja, wat ’n priester was, na hom toe gestuur het met ’n versoek: 2“Koning Nebukadnesar van Babel is besig om met sy soldate teen ons op te trek. Vra tog namens ons vir die Here wat gaan gebeur. Miskien sal die Here vir ons ’n wonderwerk doen soos Hy al in die verlede gedoen het. Miskien sal Nebukadnesar dan terugtrek.”
3Jeremia het hulle geantwoord: “Gaan sê vir koning Sedekia, 4die Here, die God van Israel sê: Op die oomblik is julle besig om buite die mure van die stad te baklei teen die koning van Babel en die Babiloniërs wat julle omsingel het. Ek gaan maak dat julle niks met julle wapens kan doen nie. Ek gaan julle vyand laat inkom in die hartjie van die stad in. 5Ek gaan ook self teen julle veg en julle my groot krag laat voel. Ek is verskriklik kwaad. Julle het My woedend gemaak. 6Ek gaan ’n epidemie in die stad laat uitbreek. Mens en dier sal doodgaan. 7Na dit alles gebeur het,” sê die Here, “sal koning Sedekia van Juda, van sy amptenare en van die mense in die stad die oorlog, hongersnood en siektes oorleef. Maar Ek sal dat koning Nebukadnesar van Babel en hulle vyande wat hulle dood wil hê, hulle vang. Hy sal hulle doodmaak sonder dat hy enigsins vir hulle jammer voel. Hy sal geen genade vir hulle hê nie en niemand laat oorleef nie.
8“Sê vir die mense, die Here sê: Ek gee julle ’n keuse. Julle kan kies tussen lewe en dood. 9Mense wat kies om in Jerusalem te bly sal óf in gevegte óf van die siekte-epidemie óf van die honger doodgaan. Maar wie kies om uit die stad te gaan en hulle aan die Babiloniërs oor te gee, sal bly lewe. 10Ek het besluit om hierdie stad skade aan te doen. Ek gaan niks goeds vir hulle doen nie,” sê die Here. “Ek sal die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal Jerusalem verbrand.”
Straf vir die konings van Juda
11Sê vir die koninklike familie: “Dit is die boodskap van die Here vir julle! 12Die Here sê die volgende vir die konings wat uit die nageslag van Dawid kom: Sorg dat mense elke dag regverdig behandel word. As iemand besteel is, beskerm die persoon teen die uitbuiters. As julle dit nie doen nie, sal my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan blus nie. Dit sal gebeur omdat julle verkeerd doen. 13Ek is teen julle gekant, mense van Jerusalem. Julle spog en sê dat niemand julle kan bykom waar julle op julle berg bly nie. 14Ek sal julle straf vir dit wat julle gedoen het,” sê die Here. “Ek sal ’n vuur in die paleis aansteek wat alles rondom tot as sal verbrand.”

Tans Gekies:

Jeremia 21: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan