Jeremia 43

43
Jeremia beland in Egipte
1Toe Jeremia klaar gepraat het en gesê het wat die Here wou hê hulle moes hoor, 2het Asarja seun van Hosaja en Joganan seun van Kareag en party van die arrogante mans by hulle vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie gestuur om vir ons te sê ons mag nie in Egipte gaan bly nie! 3Dit is Baruk die seun van Nerija wat jou teen ons opgesteek het. Hy wil hê die Babiloniërs moet ons in die hande kry. Hulle sal ons dan doodmaak of uit ons land uit wegvat Babel toe.”
4Joganan en al die weermagoffisiere en ook die gewone mense wou nie luister na die Here se opdrag om in Juda te bly nie. 5Joganan en die offisiere vat toe al die Joodse mense wat eers na buurlande toe gevlug het en toe weer in Juda kom bly het, saam met hulle. 6Onder die groep mense was mans, vroue, kinders en ook koning Sedekia se dogters. Verder ook al die mense wat Nebusaradan in Gedalja se sorg gelos het. Nebusaradan was die hoof van die Babiloniese koning se persoonlike wagte. Jeremia en Baruk was ook onder die groep mense wat hulle met hulle saamgevat het. 7Die mense het hulle nie gesteur aan wat die Here gesê het nie en het Egipte toe gegaan. Hulle het by die stad Tagpanges aangekom.
8By Tagpanges het die Here weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê: 9“Gaan na die farao se paleis wat in Tagpanges is. Daar is ’n stuk plaveisel voor die ingang van die paleis. Vat ’n paar groot klippe en druk hulle in die klei wat tussen die stene van die plaveisel is. Maar doen dit so dat die mense van Juda jou sien as jy dit doen. 10Sê dan vir die mense van Juda die Here wat die God van Israel is, sê: Julle kan julle klaarmaak, Ek gaan Nebukadnesar, die koning van Babel, hier na Egipte toe laat kom. Hy is in my diens. Ek sal hom sy troon laat neersit hier waar Ek hierdie klippe laat wegsteek het. Hy sal sy koninklike tent bo-oor die plek opslaan. 11Nebukadnesar sal kom en Egipte aanval. Die mense se lot is reeds bepaal. Dié wat moet doodgaan, sal doodgaan. Die mense wat gevange geneem moet word, sal gevang word en dié wat deur geweld moet sterf, sal so sterf. 12Hy sal die tempels van die Egiptiese gode aan die brand steek. Hulle afgode sal deur die vuur verbrand word of as buit weggevat word. Hy sal Egipte skoonmaak soos ’n herder van insekte in sy klere ontslae raak. Daarna sal hy ewe rustig weggaan. 13Hy sal die pilare voor die tempel van die son in Egipte afbreek. Verder sal hy ook die tempels van die Egiptiese gode afbrand.”

Tans Gekies:

Jeremia 43: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan