Jeremia 8

8
1Die Here sê: “In dié tyd sal die vyand die grafte van die mense wat in Jerusalem bly, oopmaak. Hulle sal geen graf uitlos nie. Hulle sal die geraamtes van die konings van Juda en die leiers uithaal. Hulle sal ook die geraamtes van die priesters, die profete van die Here en die bene van die gewone mense uit die grafte haal. 2Hierdie bene sal hulle uitpak onder die son, die maan en die sterre. Toe hierdie geraamtes nog geleef het, het hulle mos die son, die maan en die sterre as gode liefgehad en moeite gedoen om hulle te vereer. Die bene van die mense van Jerusalem sal nie weer begrawe word nie, maar sal soos mis bo-op die grond bly lê. 3Ek het die mense van hierdie bose nasie weggedryf na ander lande. Dié van hulle wat daar oorleef, sal verkies om liewer dood te wees as om te bly lewe. Dit is wat die Here sê wat sterker as alles en almal is!”
Valse wysheid
4“Jeremia, gaan sê vir die mense wat Ek, die Here, sê: Is dit nie so dat as ’n mens val, staan jy weer op nie? Of as jy agterkom dat jy op die verkeerde pad is, dat jy terugdraai nie? 5Vertel My, waarom hou hierdie mense aan om af te dwaal? Hoekom hou die mense van Jerusalem aan om My te bedrieg en weier hulle om na My toe terug te kom? 6Ek het fyn geluister na hulle praatjies. Hulle praat nie die waarheid nie. Nie eens een van hulle is spyt oor die verkeerde dinge wat hulle doen nie. Niemand van hulle sê: ‘Watse verskriklike ding het ek aangevang!’ nie. Nee, hulle hou net aan voortstorm op hierdie verkeerde koers wat hulle gekies het, soos ’n perd wat in ’n geveg instorm. 7Die trekvoëls, soos die ooievaar, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël, weet as dit tyd is om na ’n ander omgewing te vlieg. Elke jaar wanneer die seisoen verander, kom hulle terug. Maar dit is nie so met my volk nie,” sê die Here. “Hulle weet kastig nie wat Ek van hulle verwag nie!
8“Hoe kan julle sê: ‘Ons het kennis, want ons het die voorskrifte van die Here’? Die skrywers wat hierdie voorskrifte neergeskryf het, het daaraan verander en dit verdraai. 9Hierdie kamstige slim skrywers sal in die skande kom, want hulle is verward en vasgevang in hulle eie manier van dink en doen. Hulle dink niks van wat Ek, die Here, sê nie. Is hulle dan nou so danig slim? 10Ek sal hulle vroue en hulle plase vir ander mense gee. Almal van hulle, of hulle nou klein of groot is, wil ryk word, al is dit nou ook deur ’n ander mens te bedrieg. Selfs die sogenaamde profete van die Here en die godsdienstige leiers doen oneerlike dinge. 11Hulle gee sommer goedkoop oplossings vir die probleme van my volk. Hulle maak of alles reg is as hulle sê ‘vrede, vrede’ terwyl dit allesbehalwe rustig en vreedsaam gaan. 12Is hulle miskien skaam oor al die afstootlike goed wat hulle doen? Nee, hulle bloos nie eens nie. Hulle het nie ’n idee wat dit is om skaam te wees nie. Hulle sal ondergaan soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Wanneer Ek hulle straf, sal dit klaarpraat wees met hulle,” sê die Here. 13Die Here het ook gesê: “Juda was soos ’n boord wat geen vrugte dra nie. Nutteloos! Hulle lewer niks goeds op nie. Hulle is soos ’n wingerd sonder druiwe of soos ’n vyeboom sonder vye. Selfs die blare is verdroog. Daarom sal hulle al die goeie dinge verloor wat Ek vir hulle gegee het.”
14Die volk van die Here vra: “Hoekom sal ons hier op ’n hoop sit en doodgaan? Party van die stede is sterker gebou om mense in oorlogtye teen die vyand te beskerm. Kom ons gaan in hierdie stede in, want dan gaan ons ten minste dood terwyl ons probeer het om terug te baklei. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet doodgaan. Die Here wou hê dat ons aan Hom lojaal moes wees, maar ons was nie. Ons het die toets vir lojaliteit gedruip en daarom sal ons sterf. 15Ons het gehoop vir ’n tyd van vrede, maar daar het niks van gekom nie. In plaas van ’n tyd waarin ons gehoop het dat dinge vir ons sou regkom, het iets skrikwekkends met ons gebeur. 16Ons kon alreeds uit Dan, wat op die noordelike grens is, die gerunnik van die vyand se perde hoor. Al die mense van die land het begin bewe toe hulle besef dat die vyand se leër op pad is. Die vyand se plan was om ons land en alles wat daarop is te kom verwoes. Ook elke stad van ons en die mense wat daarin bly.”
17Die Here sê: “Ek stuur die vyand se soldate soos giftige slange tussen julle in. Julle kan hulle nie betower nie. Net mooi niks wat julle ook al probeer doen om dit te keer, sal help nie. Die slange sal julle pik en julle sal doodgaan.”
Jeremia huil
18Jeremia sê: “My hartseer oorweldig my. Ek is siek van ontsteltenis. 19Hoor die benoude geroep van my mense. Dit weerklink deur die hele land: ‘Is die Here nie meer in Jerusalem nie? Is die koning ook nie meer in die stad nie?’”
Hierop antwoord die Here: “Waarom buig hulle voor nuttelose afgode wat met die hand gemaak is? Hulle maak My sommer baie kwaad!”
20Die mense kla: “Ons het klaar geoes en die somer is al verby, maar ons is nog nie vrygemaak nie.”
21Jeremia sê: “My mense is gewond en voel baie pyn. Hulle pyn voel vir my asof dit my eie pyn is. Ek huil oor hulle. Ek voel so platgeslaan oor hulle toestand. 22Is daar nie medisyne in Gilead wat my mense se wonde gesond sal maak nie? Is daar nie ’n dokter wat hulle kan help nie? Hoekom kan iets nie gedoen word om my mense gesond en vry te maak nie?”

Tans Gekies:

Jeremia 8: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan