Jesus en sy volgelinge is daarna na die platteland van Judea toe en het daar so ’n rukkie uitgespan. Hulle het ook mense gedoop. Johannes was weer in Enon naby Salim besig om te doop, want daar was baie water. Mense het gedurig daar opgedaag om gedoop te word. (Dit was nog voordat Johannes in die tronk gegooi is.) Die volgelinge van Johannes en ’n Jood het juis aan die stry geraak oor hoe ’n mens jou vir God skoon en rein kan maak. Hulle is toe na Johannes self toe. “Meneer,” sê hulle, “jy onthou mos nog daardie Persoon wat daar oorkant die Jordaan by jou was. Ons praat van daardie Een oor wie jy met soveel oortuiging gepraat het. Wel, weet jy wat. Hy het ook nou begin doop, en die ergste is, al die mense stroom na Hom toe.” “Die mens kry nie bloot net iets nie,” begin Johannes toe. “Alles wat hy het, word deur God aan hom gegee. Julle weet mos ek het gesê ek is nie die Christus nie. Ek is maar net soos ’n boodskapper voor Hom uitgestuur. “Laat ek vir julle ’n voorbeeld gee: die bruid is net bedoel vir die bruidegom en oor húlle gaan die troue. Die vriend van die bruidegom, die strooijonker, help maar net. As hy die bruidegom self hoor praat, maak dit hom baie bly. So is dit tussen my en Jesus ook. Daarom ken my blydskap nou nie einde nie. Hy moet al hoe meer in die kalklig staan terwyl ek stadigaan van die toneel moet verdwyn. So moet en sal dit wees!” “Jesus wat van bo af kom, staan kop en skouers bo almal uit. Iemand wat sommer as ’n mens hier op aarde gebore is, bly maar aards. Hy kan ook maar net oor aardse dinge praat. Sulke mense kan nie naastenby vergelyk word met die Een wat van bo uit die hemel kom nie. Hy is in ’n klas van sy eie. Hy praat met sekerheid oor wat Hy in die hemel gesien en gehoor het. Tog steur niemand hulle aan dit wat Hy met soveel oortuiging sê nie. “Wie egter luister na wat Hy sê, bevestig daarmee dat God waar is en dat die waarheid van God af kom. God het Hom gestuur om sy boodskap vir ons te bring. Die Seun kan dit doen, want God het die Gees aan Hom gegee sonder voorwaarde of beperking. Die Vader het sy Seun lief en het alles aan Hom gegee. Daarom het die Seun beheer oor alles. “Iemand wat dus deur geloof ’n vriend van die Seun word, sal vir ewig en altyd sy vriend bly. “Maar iemand wat die Seun die rug toekeer en nie na Hom wil luister nie, sal nooit so ’n vriendskap ken nie. Hy sal wel iets anders leer ken: die woede en straf van God!”
Lees Johannes 3
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Johannes 3:22-36
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's