Job 28

28
Soek na wysheid
1“Mense weet waar om vir silwer te myn en hoe om goud suiwer te kry. 2Hulle weet hoe om yster uit die grond te haal. Hulle weet ook dat koper uit erts gesmelt kan word. 3Dit is baie donker onder die grond, maar mense weet hoe om lig daar te bring en die donker weg te jaag. Die lig maak dit moontlik om die verste donker dele van die aarde deur te soek om erts in die hande te kry. 4Hulle sink skagte in die grond op plekke wat nie naby gebiede is waar mense bly nie. Hulle sak dan met toue af en swaai heen en weer, ver van die mense af. 5Graan groei in die grond en op die ou einde word dit brood wat mense eet. Maar onder die aarde gebruik hulle vuur om die rotse te breek en te smelt. 6In die klip kry hulle saffiere en ook poeierfyn goud. 7Die roofvoëls weet nie waar hierdie skatte is nie. Die valke kan dit ook nie sien nie. 8Die roofdiere kom nie daar nie. Daar is nog nie ’n leeu wat al daaroor geloop het nie. 9Die mense kap aan die hardste rotse. Hulle keer amper die berge om soos hulle aan die fondasie grawe. 10Hulle sny tonnels deur die rotse en soek ywerig na elke moontlike edelsteen wat hulle kan kry. 11Hulle dam die klein stroompies op op soek na die weggesteekte skatte wat hulle wil uithaal.
12“Maar waar kan ’n mens wysheid kry? Waar kom iets soos ‘om te kan verstaan’ vandaan? 13Niemand weet wat wysheid eintlik werd is nie. ’n Mens kry dit net nie onder die mense op hierdie aarde nie. 14Selfs die diep waters en die see sê: ‘Die wysheid is nie hier by ons nie.’
15“’n Mens kan nie met goud vir wysheid betaal nie en met geld kan jy dit nie koop nie. 16Die waarde van wysheid kan nie eers vergelyk word met die fynste goud of kosbaarste diamante of saffiere nie. 17Goud en glans kan nie met die wysheid vergelyk word nie. Dit kan nie eers vir goue juwele verruil word nie. 18Koraal of kristal kan nie eers in dieselfde asem as wysheid genoem word nie. Dit is baie meer werd as pêrels. 19Selfs nie topaas wat uit Etiopië kom, kan daarmee vergelyk word nie. Dit is onmoontlik om die waarde van wysheid met suiwer goud te probeer bepaal.
20“Nou waar kom wysheid vandaan? Wat is die oorsprong van ‘verstaan’? 21Dit is weggesteek vir die mense van die aarde. Hulle kan dit net nie sien nie. Dit is selfs vir die voëls in die lug weggesteek. 22Ook die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het maar net ’n gerug daarvan gehoor.’
23“Net God weet hoe ’n mens daarby kan uitkom en dit in die hande kan kry. 24Want Hy kyk so ver as die einde van die aarde. Hy kan ook alles sien wat onder die hemel is. 25Hy bepaal hoe sterk die wind sal waai. Hy sê ook presies hoe groot die see en riviere sal wees. 26Hy maak reëls vir die reën en wys die pad vir die weerlig aan. 27Toe Hy dit alles klaar gedoen het, het Hy wysheid raakgesien en gekyk wat sy werd is. Hy het wysheid deeglik ondersoek en haar toe goedgekeur. 28Die Here het toe vir die mensdom gesê: ‘Om vir die Here ontsag te hê en Hom te respekteer is om regtig wys te wees. Om slegte goed uit te los is om regtig insig te hê.’”

Tans Gekies:

Job 28: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan