Job 33

33
Elihu stel sy saak
1Elihu het vir Job gesê: “Job, ek wil graag hê jy moet luister na wat ek te sê het. 2Ek is reg om te begin praat. 3Ek gaan reguit en eerlik sê wat ek weet. 4God se Gees het my gemaak en Hy gee my lewe. 5Job, ek wil jou uitdaag om my te antwoord as jy kan. Maak jou reg om jouself te verdedig.
6“Voor God is ek en jy gelyk. Ek is ook maar net uit klei gemaak. 7Jy hoef nie vir my bang te wees nie. Ek sal dit nie vir jou te moeilik maak nie. 8Ek het elke woord gehoor wat jy gesê het. 9Jy het gesê: ‘Ek voel nie skuldig nie, want ek het nie oortree nie. Ek is onskuldig, ek het niks verkeerds gedoen nie. 10Maar dit is God wat met my foutvind. Hy maak of ek sy vyand is. 11Hy sit boeie aan my voete. Ek is soos ’n iemand in die tronk. Hy hou elke beweging van my dop.’”
12Elihu het gesê: “Maar jy is verkeerd, Job, en ek sal jou sê hoekom ek van jou verskil. Jy sien, God is groter as ’n mens. 13Hoe kan jy God verwyt omdat Hy jou nie antwoord op alles wat jy gesê het nie? 14God praat op verskillende maniere met mense, maar hulle besef dit nie altyd nie. 15Vir party mense sal God ’n droom of ’n gesig in die nag gee as hulle vas op hulle bed lê en slaap. 16Op so ’n manier gee die Here dan vir hulle ’n duidelike waarskuwing 17om met verkeerde dinge op te hou en nie te veel van hulleself te dink nie. 18So probeer Hy keer dat mense doodgaan en in die graf eindig.
19“Ander kere weer probeer God mense reghelp deur siekte en pyn wat net nie ophou nie. 20Hulle verloor dan selfs hulle eetlus en wil nie eers van die lekkerste kos eet nie. 21Op die ou einde is hulle net vel en been, so maer is hulle. 22So beland hulle op die randjie van die graf, amper op die laaste van hulle lewe.
23“Daar is duisende spesiale boodskappers in die hemel. Hulle praat baiekeer namens ’n mens met God. As een van hulle net vir ’n mens kan wys wat reg is, 24sal God nie hard met so iemand werk nie. Hy sal sê: ‘Red hom dat hy nie doodgaan nie, want daar is ’n losprys vir sy lewe betaal.’ 25Dan sal sy liggaam weer fris en sterk voel soos toe hy jonk was. 26As hy bid, sal God hom antwoord. Hy sal die Here met groot blydskap aanbid. God sal weer die verhouding tussen hulle regmaak. 27Hy sal vir die mense vertel: ‘Ek het verkeerde dinge gedoen. Ek het my nie gesteur aan wat reg is nie, maar dit het my niks in die sak gebring nie. Dit was nie die moeite werd om so te leef nie. 28Maar God het gesorg dat ek nie in die dood beland het nie. Hy het my losgekoop. Nou lewe ek en kan ek die lig geniet.’
29“Dit is wat God vir mense doen. Hy doen dit selfs twee of drie keer vir hulle. 30Hy bring mense uit die dood terug sodat hulle weer in die lig kan leef. Hulle is mense wat bly is oor die lewe. 31Gee ’n bietjie aandag, Job! Jy kan gerus na my luister. Bly ’n slag stil as ek praat. 32Maar as jy nog iets te sê het, sê dit vir my. Ek sal graag vir jou wil sê waar ek dink dat jy reg is. 33Maar andersins, luister na my! Bly stil sodat ek jou kan leer wat wysheid is.”

Tans Gekies:

Job 33: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan