Jona was baie ontevrede omdat die Here van plan verander het. Hy het baie kwaad geword vir die Here. Hy het toe só vir die Here gesê: “Ag genade tog, Here, is dit nie presies wat ek vir myself gesê het toe ek nog by die huis was nie? Is dit nie hoekom ek aan die begin maar liewer na Tarsis toe wou vlug nie? Ek het voor my siel geweet U is die God wat mense vergewe en hulle jammer kry. U is geduldig met hulle en gee vir hulle om. U kry altyd later spyt as U besluit het om hulle te verwoes. Laat my tog nou maar liewer doodgaan, Here. Dit is beter as ek nie verder bly lewe nie.” Die Here vra hom toe: “Het jy die reg om vir my kwaad te word?” Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad vir hom ’n skerm gaan maak sodat hy daaronder in die skaduwee kon sit. Hy het daar gaan sit om te kyk of daar iets met die stad gaan gebeur. Die Here God laat toe ’n wonderplant opkom. Dit het ’n skaduwee oor Jona gegooi wat dit vir hom baie gemakliker gemaak het. Jona was baie bly oor die wonderplant. Maar die volgende oggend toe die son opkom, stuur God ’n wurm. Hy het aan die plant begin vreet en dit het veroorsaak dat die plant doodgaan. Die son het al warmer geword. Soos die dag vorder, het God ’n skroeiende warm wind uit die ooste laat waai. Die son het so warm op Jona gebrand en hom so gedaan gemaak dat hy naderhand gewens het dat hy tog maar liewer dood was. Hy sê toe weer soos hy gesê het: “Dit is beter as ek nie verder lewe nie.” God vra toe weer vir Jona: “Het jy die reg om oor hierdie wonderplant kwaad te wees?” “Ja, tot die dood toe,” antwoord Jona die Here. “Nou toe nou,” sê die Here vir hom. “Jy dink jy het die reg om kwaad te wees oor ’n plant waarvoor jy nie ’n oomblik moeite gedoen het om dit te laat groei nie, wat oornag op sy eie opgekom en weer net so verdwyn het. Maar jy wil nie hê Ek moet bekommerd wees oor die groot stad Nineve nie, waarin daar meer as 120 000 mense bly wat nie reg van verkeerd kan onderskei nie en waarin daar so baie diere is. Het Ek nie die reg om My oor hulle te bekommer nie?”
Lees Jona 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: Jona 4:1-11
15 Dae
“God sal elkeen red wat hom tot hom wend,” het Jona aan sy vyande gepreek, maar toe kwaad geword vir God omdat hy hulle gered het. Reis daagliks deur Jona terwyl jy na die oudiostudie luister en uitgesoekte verse uit God se woord lees.
27 Dae
Die boek van Jona is nie net 'n verhaal van 'n barmhartige God en 'n opstandige nasie nie, maar 'n barmhartige God en sy ongehoorsame kind. Mag jy bemoedig word soos jy hierdie kragtige verhaal van God se eindelose genade en barmhartigheid lees, en mag jy nooit vergeet dat niemand te sleg is om gered te word nie.
29 Dae
God se Woord bied ‘n boodskap van hoop. Selfs te midde van sonde en swaarkry, hou God nooit op om ons op te soek en na Hom terug te lei nie. In hierdie Bybelstudie gaan ons in die boeke van die klein profete delf om God te sien wat ons opsoek en wat beide getrou en regverdig is. Hierdie dagstukkies sal jou help leer hoe ‘n lewe van gehoorsaamheid lyk.
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's