Klaagliedere 2
2
Die Here self het dit gedoen
1Ai tog! Die Here was so woedend. Hy het soos ’n donker wolk oor Sion gekom. Van bo uit die hemel uit het Hy die mooi stad van Israel in die grond in geboor. Toe Hy so kwaad geword het, het Hy weggegaan van die tempel af waar Hy altyd gewoon het. 2Hy het sonder om jammer te wees die plek verwoes waar Jakob gebly het. Hy was woedend toe Hy die plek afgebreek het waar Juda gewoon het. Hy het die leiers op die grond gegooi. Hy het ’n einde gemaak aan hulle regering. 3Hy was rasend van woede toe Hy Israel se krag gebreek het. Toe die vyand kom, het Hy nie eens ’n hand uitgesteek om sy mense te help nie. Hy was soos vuur wat van alle kante af teen Jakob gebrand het. 4Hy het reg teenoor ons gaan staan. Hy het die pyl in sy boog gespan en na ons gemik asof ons sy vyand was. Hy het soos ’n vyand alles verwoes wat vir ons mooi was. Sy woede het losgebars teen dié wat in Sion bly. Dit was soos ’n vuur wat vlam vat.
5Die Here het Israel verwoes asof hulle sy vyand was. Hy het die huise afgebreek waarin hulle gewoon het. Hy het die plekke waar hulle teen gevare geskuil het, heeltemal verwoes. Hy het ’n hartseer in Juda gebring wat nooit sal weggaan nie. 6Hy het sy tempel waar almal bymekaargekom het, met geweld verwoes. Hy het dit afgebreek asof dit net ’n tydelike afdak was. Die Here het dit laat ophou dat ons vir Hom bymekaarkom en sy feeste en rusdae hou. Hy was so kwaad dat Hy sommer die koning en sy werkers by die tempel in die pad gesteek het. 7Die Here wou niks verder weet van die plek waarop hulle vir Hom geoffer het nie. Hy het nie verder belanggestel in die tempel waar hulle tot Hom kom bid het nie. Hy het die vyand toegelaat om sy huis se mure te kom afbreek. Hulle het in die huis van die Here ingekom en daar ’n lawaai gemaak asof dit ’n plek was waar ’n mens te kere kan gaan soos jy wil.
8Die Here het besluit dat Sion se mure afgebreek moet word. Hy het merke op die mure gemaak om vir die vyand te wys waarheen hulle moet kom om dit af te breek. Die sterk mure aan die buitekant het saam met die mure aan die binnekant inmekaargestort. 9Die hekke van die stad lê saam met hulle skarniere onder die rommel begrawe. Haar koning en haar leiers is weggevat na ander volke toe. Dié wat vir die mense moet kom vertel wat die Here sê, hoor niks van die Here nie. Niemand weet meer wat die Here wil hê nie.
Alles is verby
10Die leiers van Sion sit plat op die grond. Hulle sê nie ’n woord nie. Hulle het begrafnisklere aan. Elkeen van hulle gooi grond op sy kop, so hartseer is hulle. Die jongmeisies van Jerusalem sit daar kop onderstebo. 11Ek is heeltemal verslae. My oë is al leeg gehuil. Ek is naar op my maag as ek sien hoe my volk in duie stort. Kinders en babatjies word flou in die stad se strate. 12Die kinders soek by die ma’s iets om te eet of te drink. Hulle sak op straat inmekaar soos iemand wat geskiet is. Hulle gaan dood in hulle ma se arms. 13Wat kan ek as ’n voorbeeld gebruik om jou mee te vergelyk, Jerusalem? Waarmee kan ek jou vergelyk dat dit jou miskien kan troos, Sion? Wat jou oorgekom het, is so vreeslik dat dit nie lyk of iemand jou ooit weer sal kan regkry nie.
14Hulle wat vir julle moes sê wat God hulle laat sien het, het vir julle gelieg en julle bedrieg. Hulle moes vir julle gesê het wat julle verkeerd doen om te keer dat julle uit julle land uit weggevat word. Wat hulle vir julle vertel het wat hulle gesien het, was ’n klomp leuens.
15Almal wat by die stad verbyloop, slaan die hande saam. Hulle skud die kop en fluit van verbasing oor Jerusalem. Hulle wonder: “Is dit die stad wat hulle gesê het so mooi is, wat vreugde vir die wêreld bring?” 16Jou vyande het baie oor jou te sê. Hulle fluit deur hulle tande en dryf die spot met jou. Hulle sê: “Uiteindelik het die dag gekom waarvoor ons gewag het om die stad te vernietig!”
17Die Here het met jou laat gebeur wat Hy oor jou besluit het. Hy het jou genadeloos verwoes, soos Hy lank terug al beloof het. Hy het jou vyande sterk gemaak en hulle laat lekkerkry toe hulle jou verslaan het.
Vra die Here vir genade
18Laat die mure van Sion by die Here gaan pleit. Laat daar dag en nag trane vloei soos ’n rivier. Moenie vir ’n oomblik ophou nie. 19Staan elke keer in die nag op wanneer die wagte omruil en roep na die Here. Stort julle hart soos water voor Hom uit. Steek julle hande na Hom toe uit. Pleit by Hom vir julle kinders wat op die straat van honger inmekaarsak.
20Kyk ’n bietjie, Here, wie kry die swaarste onder dit wat U met ons laat gebeur het. Moet vroue dan die kinders eet wat hulle self in die wêreld gebring het? Moet die priesters dan daar waar hulle vir die Here by sy tempel werk, doodgemaak word? Moet die profete wat God se boodskap oordra, dan daar doodgaan? 21Buite op die grond lê daar jonges en oues wat dood is. Die jonges is met die swaard doodgemaak. Die dag toe U kwaad geword het, het U hulle doodgemaak. U het hulle sonder genade soos diere geslag. 22U het van oral af my vyande geroep asof dit ’n fees was waarvoor hulle moes kom. Die dag toe die Here sy woede losgelaat het, het niemand dit reggekry om te ontsnap nie. Die vyand het my kinders doodgemaak wat ek met soveel liefde grootgemaak het.
Tans Gekies:
Klaagliedere 2: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.