Lukas 15:12-17

Lukas 15:12-17 DB

Die jongste seun kom toe op ’n dag by sy pa en sê vir hom: ‘Pa, ek wil nou dadelik my erfporsie hê. Ek wil nie wag tot Pa eers dood is nie.’ “Die pa het sy goed verdeel en vir elke seun sy erfporsie gegee. ’n Paar dae later het die jongste seun sy goed gevat en padgegee. Hy het in ’n ander land gaan bly. Daar het hy sy erfporsie uitgemors. Hy het die een wilde partytjie na die ander gehou en gedoen net wat sy hart begeer. Kort voor lank was al sy geld op. Toe breek daar ’n groot hongersnood in die land uit sodat die jongman niks gehad het om te eet nie. Hy het later gaan werk vir iemand wat in daardie land bly. Al werk wat hy vir die jongman gehad het, was om varke op te pas. Later was die arme man so honger dat hy selfs bereid was om die varke se kos te eet. Maar die eienaar het geweier. “Op ’n dag sit die jongman toe by homself en dink: ‘Wat vang ek aan met my lewe? Selfs my pa se slawe daar op sy plaas het ’n beter lewe as ek. Hulle het almal oorgenoeg kos om te eet, maar ek het nie eens ’n stukkie droë brood om my honger te stil nie. Hier sit ek en sterf van ellende!