Matteus 21

21
Op ’n donkie Jerusalem in
1Hulle kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. 2“Gaan asseblief gou na Betfage toe,” vra Jesus twee van sy volgelinge. “Nes julle in die dorp kom, sal julle ’n donkie met ’n vulletjie by haar kry. Bring hulle al twee vir My. 3As iemand vra wat julle doen, sê: Die Here het die twee donkies nodig. Sodra Hy klaar is, sal ons hulle terugbring.”
4Jesaja het mos lank terug reeds gesê:
5“Sê vir die mense van Jerusalem: Word wakker, julle Koning is op pad. Hy kom eenvoudig op ’n donkie aangery, Hy sit op die vul van ’n pakdier.”
6Die twee dissipels het gedoen wat Hy gevra het. 7Toe hulle met die donkies daar aankom, het sy dissipels vir Hom ’n saal van klere gemaak. Toe Jesus begin ry, het baie mense om Hom saamgedrom. 8Die meeste van hulle het los stukke klere wat hulle by hulle gehad het mooi voor sy donkie oopgevou. Ander het weer boomtakkies op die pad voor Hom gegooi sodat Hy op die groen tapyt kon ry. 9Hulle het Hom soos ’n koning verwelkom en hard uitgeroep:
“Hoera vir die Seun van Dawid! Prys Hom wat op gesag van die Here self kom. Laat die hemel van ons vrolike hoera’s weergalm!”
10So is Jesus met die hele groep mense Jerusalem in. Dit het nogal ’n opskudding in die stad veroorsaak. “Wat gaan aan? Wie is hy?” het 11die mense in Jerusalem probeer uitvind. “Dit is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea,” het mense in Jesus se groep uitgeroep.
Jesus in die tempel
12In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die hoë tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Dit was ommuur en is as deel van die tempel beskou. Op hierdie tempelplein is allerhande offerdiere verkoop aan die dorpsmense wat nie self diere gehad het nie of aan mense wat ver gereis het en nie diere die hele ent kon saambring nie. Jy kon daar ook vreemde geld omruil vir die regte soort geld wat vir tempelbelasting gebruik is. Die plein was die ene bedrywigheid. Jesus het die gedoente so gekyk en toe die spul daar weggejaag. Tot die tafels en stoele het Hy omgekeer. 13Vir die mense wat verbaas gestaan en kyk het, sê Hy toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan:
‘Die bedoeling is dat mense My moet kom aanbid hier waar Ek woon! Julle het dit egter die bymekaarkomplek van skelms en diewe gemaak.’”
14Op die tempelplein was daar nou weer plek vir die blindes en lammes. Hulle het na Jesus toe gestroom en Hy het hulle gesond gemaak. 15Die Joodse godsdienstige leiers het Jesus natuurlik soos valke dopgehou. Niks het hulle oë ontglip nie. Hulle het gesien hoe wonderlik Jesus die mense help. Hulle het ook gehoor hoe die kinders op die plein rondhardloop en skreeu: “Hoera, koning Dawid se Seun is hier!” Dit alles het hulle baie omgekrap. 16Hulle konfronteer Jesus toe: “Hoor jy wat skreeu hierdie kinders oor jou?”
“Ja,” sê Jesus. “Het julle dan nog nooit geleer nie: as kinders, wat nog nie eens behoorlik kan loop nie, iemand loof, verdien hy regtig daardie lof.”
17Jesus was nie lus om verder met hulle te stry nie en is daar weg, Betanië toe. Daar het Hy die nag geslaap.
Bid en vertrou
18Die volgende môre is Jesus vroeg terug stad toe. Op pad het Hy honger begin voel. 19Hy sien toe ’n vyeboom langs die pad en gaan soek ’n paar vye. Die boom was die ene blare, maar daar was nie ’n enkele vy nie. “Een ding is seker: niemand sal ooit weer ’n vy van hierdie boom afpluk nie,” sê Jesus toe. Dadelik het die boom wortel en tak verdroog.
20Sy volgelinge was nogal uit die veld geslaan hieroor. “Het julle dit gesien? Hoe op aarde is dit moontlik?” vra hulle.
21Jesus antwoord toe: “Luister nou mooi, want Ek wil vir julle iets belangriks sê. As julle op God vertrou, Ek bedoel regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het, na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir ’n berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring - en sowaar te sien hoe dit gebeur!
22“Om heeltemal op God te vertrou gee krag aan jou gebed. Bid met daardie vertroue en God sal vir jou gee wat jy vra, of dit iets kleins of iets groots is.”
Wie gee die gesag?
23Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy weer reguit tempel toe. Die mense het om Hom begin saamdrom. Hy het hulle alles geleer van God se nuwe wêreld. Van die godsdienstige leiers en ’n paar van die belangrike mense uit Jerusalem sluit toe by die groep mense om Jesus aan en vra: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?”
24Jesus was reg vir hulle: “Laat Ek julle eers ’n vraag vra. As julle my vraag kan antwoord, sal Ek julle vraag antwoord. 25Wie het Johannes die reg gegee om te doop? Was dit God of die mense?”
Die Jode het dadelik besef dat Jesus hulle nou in ’n hoek gedryf het. Hulle was in die moeilikheid, want sê hulle: “God het hom die reg gegee,” sal Jesus hulle vra waarom hulle nie geglo het wat Johannes gesê het nie. 26Sê hulle weer: “Die mense het hom die reg gegee,” sal hulle in die gewone mense se slegte boekies kom. Die gewone mense het almal gedink dat Johannes ’n boodskapper van God was. 27Om uit die moeilikheid te bly kon hulle maar net sê: “Nee, ons weet nie.”
Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Maar dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.”
Doen wat God vra
28Voor die Joodse leiers nog kon padgee, sê Jesus: “Wag so ’n bietjie. Sê My, wat dink julle van hierdie verhaal?
“Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’ 29‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help. 30Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed, Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie. 31Nou vra Ek julle: Watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?”
“Hoekom vra jy nog? Die eerste een natuurlik.”
“Weet julle wat?” sê Jesus toe. “Julle gaan eendag staan en kyk hoe die mense op wie julle so neersien voor julle by God se nuwe wêreld instap. Ja, Ek praat van mense soos prostitute of die tollenaars van wie julle niks hou nie. Julle dink mos julle is beter as hulle! En weet julle hoekom gaan hulle voor julle instap? 32Johannes het julle die pad kom wys wat God wil hê julle moet loop, maar julle het julle natuurlik nie aan hom gesteur nie. Die prostitute en die tollenaars het egter aan sy lippe gehang en God se pad begin loop. Julle het die neus vir hulle opgetrek, en wat is die gevolg? Julle is nog steeds op die verkeerde pad!”
Die ryk boer, sy wingerd en die huurlinge
33“Maar dit is nie al nie,” sê Jesus. “Luister ’n bietjie na hierdie verhaal: daar was ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het met alles wat nodig was. Rondom die wingerd het hy ’n stewige draad gespan. Hy het ook ’n plek reggemaak waar hy wyn kon maak. Die boer moes op ’n lang reis gaan en hy verhuur toe die wingerd aan ander boere. Hy het met hulle ooreengekom om vir hom van die druiwe as huur vir die grond te betaal. 34Toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar van sy werkers na die wingerd toe om sy druiwe te kry. 35In plaas van druiwe het hierdie werkers ’n onaangename verrassing gekry. Een is deur die boere aangerand. Gelukkig het hy nog bly leef, want ’n ander een is doodgemaak. Die boere het nog een onder die klippe gesteek, maar hy het darem weggekom.
36“Toe stuur die eienaar ’n hele klomp van sy werkers. Met hulle het dit egter nie beter gegaan nie. Hulle is net so sleg behandel.
37“Uiteindelik besluit hy om sy seun te stuur. Hy het geredeneer dat hulle niks aan sy seun sou doen nie. Vir sy seun behoort hulle mos net soveel respek te hê as vir hom. Hulle sal hom sekerlik goed behandel. 38Maar dit het nie so gebeur nie. Toe die boere die seun sien aankom, sit hulle koppe bymekaar. ‘Weet julle,’ sê hulle vir mekaar, ‘daardie seun gaan eendag hierdie grond erf. Dis nou ons kans. As ons hom nou doodmaak, sal ons mos later self die grond in die hande kan kry. Wanneer die eienaar eendag doodgaan, sal daar niemand meer oor wees om hier te boer nie.’ 39Voor die seun mooi weet wat aangaan, pak almal hom en sleep hom die veld in. Daar het hulle hom doodgemaak.”
40Jesus vra toe die klomp Joodse godsdienstiges: “Wat dink julle gaan die eienaar met die spul boere doen wanneer hy terugkom?”
41Die godsdienstiges was gou om te antwoord: “Ons dink die hel gaan om daardie boere losbrand. Daardie wingerd gaan nooit hulle s’n word nie, want die eienaar gaan hulle op die verskriklikste manier denkbaar straf. Hy sal dan die wingerd aan ander boere verhuur wat hulle huur op die regte tyd sal betaal.”
42Toe sê Jesus vir hulle: “Reg, maar moet Ek julle herinner aan wat daar in die Joodse Bybel staan?
‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien!’
43“Nou wil Ek by julle kom. Julle gaan julle plekke by God verloor. Om die waarheid te sê, God gaan julle soos die eerste boere uit sy nuwe wêreld gooi. Soos die tweede groep boere die eerste boere se plek gekry het, so sal God julle plekke dan aan mense gee wat doen wat Hy van hulle vra.
44“Oppas! Wie op hierdie Klip val, gaan bitter seerkry. Maar op wie die Klip val, van hom gaan niks oorbly nie.”
45Die groep Joodse godsdienstige leiers het die skimp verstaan en hulle kon dit nie verwerk nie. 46Daarom wou hulle Jesus sommer daar en dan in die tronk stop. Die gewone mense was egter oortuig dat Jesus regtig die Boodskapper van God is. Daarom kon die leiers op daardie tydstip niks aan Jesus doen nie.

Tans Gekies:

Matteus 21: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan