Matteus 24:6-14

Matteus 24:6-14 DB

“Aan mense wat mekaar wil uitwis, sal daar ook nie ’n einde kom nie. Julle sal nie net die nuus kry van die mense wat oorlog maak nie. Dit sal so naby aan julle kom dat julle die mense self sal kan hoor veg. Moenie dan paniekerig word nie. Hierdie dinge gaan gebeur, maar dit is nog nie die teken dat die einde daar is nie. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser ontslae probeer raak. Soos vroeër sal daar ook tye wees dat kos baie skaars gaan raak en op baie plekke sal daar aardbewings wees. Hierdie dinge sal oor en oor gebeur. Dit is egter niks in vergelyking met wat gaan kom nie. Hierdie dinge moet julle maar net waarsku om gereed te wees vir wat voorlê. Julle gaan baie swaarkry net omdat julle Christene is. Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie! “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie. Die goeie nuus van God moet en sal uitkom vir almal om te hoor. Oor die hele wêreld sal dit weergalm. Dit sal by elke nasie uitkom. “Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 24:6-14