MATTEUS 24:6-14
MATTEUS 24:6-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees. Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees. “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat. Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring. Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word. “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.”
MATTEUS 24:6-14 Bybel vir almal (ABA)
Julle sal hoor daar is oorlog, naby julle of ver van julle. Pasop, julle moenie skrik wanneer julle dit hoor nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar dit is dan nog nie die einde van alles nie. Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land veg. Mense sal min kos hê om te eet. Daar sal ook aardbewings op baie plekke wees. Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry. Dan sal mense julle vir ander mense gee, en daardie mense sal julle verdruk en doodmaak. Al die volke sal julle haat omdat julle aan My behoort. Dan sal baie mense ophou om in My te glo. Hulle sal mekaar verraai en hulle sal mekaar vir die vyand gee. Hulle sal mekaar haat. Daar sal baie vals profete kom en hulle sal vir baie mense verkeerd leer. Meer en meer mense sal nie doen wat God se wette sê nie, en daarom sal die liefde van die meeste mense min word. Maar as iemand tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God hom red. In die hele wêreld sal mense hierdie goeie boodskap bring, die boodskap dat God Koning is. Al die volke sal dit kan hoor. Daarna sal die einde van die wêreld kom.”
MATTEUS 24:6-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
MATTEUS 24:6-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”
MATTEUS 24:6-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Een nasie sal immers teen 'n ander nasie optrek en een koninkryk teen 'n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne. Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.”
MATTEUS 24:6-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë; pas op dat julle nie verskrik word nie, want al hierdie dinge moet gebeur, maar die einde is nog nie. Want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Dit alles is die begin van smarte. Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie aanstoot neem en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mislei. En omdat die ongeregtigheid toeneem, sal die liefde van baie verkoel. Maar hy wat volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
MATTEUS 24:6-14 Die Boodskap (DB)
“Aan mense wat mekaar wil uitwis, sal daar ook nie ’n einde kom nie. Julle sal nie net die nuus kry van die mense wat oorlog maak nie. Dit sal so naby aan julle kom dat julle die mense self sal kan hoor veg. Moenie dan paniekerig word nie. Hierdie dinge gaan gebeur, maar dit is nog nie die teken dat die einde daar is nie. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser ontslae probeer raak. Soos vroeër sal daar ook tye wees dat kos baie skaars gaan raak en op baie plekke sal daar aardbewings wees. Hierdie dinge sal oor en oor gebeur. Dit is egter niks in vergelyking met wat gaan kom nie. Hierdie dinge moet julle maar net waarsku om gereed te wees vir wat voorlê. Julle gaan baie swaarkry net omdat julle Christene is. Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie! “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie. Die goeie nuus van God moet en sal uitkom vir almal om te hoor. Oor die hele wêreld sal dit weergalm. Dit sal by elke nasie uitkom. “Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken.”