Miga 6
6
Hofsaak teen Israel
1“Hoor hier wat sê die Here: ‘Staan op en begin om jou saak te stel. Die berge en die heuwels sal as getuies in die saak luister na wat jy te sê het.’ 2Berge, julle wat die vaste fondament van die aarde is, luister na die aanklag van die Here teen sy volk. Hy maak ’n saak teen Israel. 3Die Here vra vir Israel: ‘My volk, wat meen julle het Ek aan julle gedoen wat nie reg is nie? Waarmee het Ek julle opgesaal dat julle so moedeloos is? Antwoord My! 4Ek het julle gehelp om uit Egipte pad te gee en vry mense te wees. Ek het daarvoor gesorg dat julle nie langer slawe in Egipte is nie. Ek het Moses, Aäron en Mirjam julle leiers gemaak. 5Onthou julle nie wat koning Balak van Moab teen julle beplan het nie? Hy wou hê Bileam moes julle vervloek, maar in plaas daarvan het hy julle net goeie dinge toegewens. En verder, onthou julle nie wat alles gebeur het vandat julle van Sittim af getrek het totdat julle uiteindelik by Gilgal aangekom het nie? Dit is belangrik dat julle dit sal onthou, want dit sal julle daaraan herinner dat Ek lojaal aan julle is.’
6“Julle vra: ‘As ’n mens nou na die offerplek toe gaan om die Here as God te vereer, wat moet ons saamvat? Sal ’n jaaroud kalf die regte offer wees om die verkeerde dinge wat ons gedoen het, reg te maak? 7Of sal duisende ramme of tien duisende riviere olyfolie die Here tevrede stel? Of beter nog, moet ’n mens jou oudste kind offer om te vergoed vir alles wat jy verkeerd gedoen het?’
8“Hoekom al die vrae? Die Here het mos al vir julle gesê wat die regte dinge is om te doen. Hy het ’n ooreenkoms met Israel aangegaan dat Hy en hulle aan mekaar getrou sal wees. Daarom verwag Hy van mense wat hierdie ooreenkoms nakom om te doen wat reg is. Verder ook om aan Hom lojaal te wees en Hom lief te hê. Laastens moet hulle nie hoogmoedig teenoor die Here wees nie.
9“Die Here se raad aan die mense van Jerusalem is: ’n mens wat verstandig is, respekteer die Here. Almal wat in die stad bymekaar is, kan gerus maar hoor wat die Here te sê het: 10‘Dink julle een oomblik dat Ek my oë kan sluit vir die verkeerde dinge waarmee julle besig is? Julle word op skelm maniere ryk. Ek kan dit nie verdra dat die maatbakke en bekers wat julle gebruik om iets soos koring of wyn af te meet, vals is nie. 11Dink julle Ek sal dink dit is reg as iemand ander mense bedrieg met ’n skaal wat verkeerd weeg? 12Die ryk mense in die stad kry wat hulle wil hê deur hardhandig met mense te werk. Jerusalem is vol mense wat lieg en bedrieg. 13Al hierdie verkeerde dinge wat julle doen, is die rede waarom Ek julle begin straf het. Daar gaan nie veel van julle oorbly nie omdat julle verkeerd leef. 14Niks wat julle doen, gaan goed vir julle werk nie. Julle kan maar eet, maar julle honger sal nie oorgaan nie. Wat julle gaan ervaar, is net soos wanneer ’n vrou geboortepyne kry, maar die kind word nie gebore nie. As ’n kind miskien tog gebore word, sal hy in ’n oorlog doodgaan. 15Julle kan maar saad probeer saai, julle sal niks oes nie. Probeer maar olywe pars, julle sal nie eens genoeg olie kry om aan julle te smeer nie. Julle sal druiwe pars, maar dit sal nie sap gee om wyn van te maak nie. Al julle harde werk is verniet. 16Ek het ’n groot probleem met julle omdat julle dieselfde verkeerde goed doen as wat koning Omri en sy seun Agab gedoen het. Dit is die rede hoekom Ek julle stad gaan verwoes. Ja, Ek gaan julle wat in die stad agterbly, verneder. Mense van ander volke sal na julle kyk en vir julle lag, want hulle dink minder as niks van julle.’”
Tans Gekies:
Miga 6: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.