In ’n stadium het ’n klompie Judese mans en vroue ernstig gekla oor hulle meer vermoënde medeburgers. Party van hulle het gesê: “Ons het groot families wat moet eet, maar omdat ons aan die muur moet werk, kan ons nie self koring plant om te eet nie. Nou moet ons dit ten duurste koop.” Ander het gesê: “Ons moes al ons lande, wingerde en huise verkoop net om kos in die hande kry.” Nog ’n groep het gesê: “Ons moes geld leen net om die grondbelasting vir die koning op ons lande en wingerde te betaal. Ons behoort tog almal aan dieselfde volk. Ons kinders verskil mos nie van die rykes s’n nie? Maar ons moet ons kinders soos slawe vir ons skuldeisers laat werk. Hulle vat ons dogters as afbetaling van ons skuld. Nou is hulle niks anders as daardie mense se slawe nie. En ons kan niks daaraan doen nie, want ons het klaar reeds ons grond en wingerde weggegee.” Ek was baie omgekrap toe ek al hierdie dinge hoor. Nadat ek lank nagedink het, het ek besluit om met die ryk mense en die leiers te raas. “Julle buit julle mense uit!” het ek vir hulle gesê. Toe het ek ’n openbare volksvergadering belê om oor die probleem te praat en vir hulle gesê: “Ons probeer ons bes om ons Judese volksgenote wat as slawe aan heidennasies verkoop is, terug te kry sodat hulle weer vry kan wees. En nou doen julle presies dieselfde en dit nogal met julle eie mense! Verwag julle dat ons hulle ook nou moet terugkoop?” Niemand het ’n woord gesê nie, want hulle het niks gehad waarmee hulle hulle kon verdedig nie. “Dit is ’n onding wat julle doen!” het ek vir hulle gesê. “Julle is veronderstel om met groot respek teenoor julle God op te tree. Dan sal ons vyande, daardie mense wat nie die Here ken nie, geen rede hê om neer te sien op ons nie. Ek en al my helpers het aan hierdie arm mense geld en koring geleen,” het ek verder gesê. “Kom ons hou nou dadelik op om mense uit te buit wat swaarkry. Gee dadelik hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle terug en kanselleer die rente wat julle op hulle uitstaande skuld op hulle geld, koring, wyn en olyfolie gehef het.” “Ons sal maak soos jy sê en al hulle eiendom teruggee sonder om verdere skuld van hulle te probeer vorder,” was die ander mense se antwoord. Toe het ek die priesters nader geroep en hierdie mense onder eed laat belowe dat hulle hulle woord sou hou. Daarna het ek my sakke as ’n teken uitgeskud en gesê: “Mag God elkeen wat nie sy woord hou nie, net so uit sy huis en besittings uitskud sodat hy niks oorhet nie.” Die hele vergadering het gesê: “Amen; laat dit so wees!” en die Here geprys. Die mense het hulle belofte gehou. Van die twintigste tot die 32ste regeringsjaar van koning Artasasta, gedurende die twaalf jaar dat ek die goewerneur van Juda was, het nie ek of enige van my amptenare ooit aanspraak gemaak op ons amptelike kostoelaag nie. Al my voorgangers het anders as ek opgetree. Hulle het swaar laste op die mense geplaas. Behalwe vir brood en wyn het hulle ook nog elke dag 460 gram silwer van die mense as belasting geëis. Selfs hulle amptenare het die mense misbruik vir hulle eie gewin. Ek het dit nie gedoen nie omdat ek God eer. Ek het voluit aan die muur gewerk en nie eens vir my grond gekoop nie. Ek het van almal wat vir my gewerk het, verwag om aan die muur te werk. Ek het daagliks vir ten minste 150 Judeërs en hulle leiers kos gegee. Dit is nou buiten mense van die omringende gebiede wat by ons kom aansluit het en wat ook daar geëet het. Ek het elke dag ’n bees, ses uitgesoekte slagskape en baie hoenders gaargemaak. Elke tien dae is daar ook ’n nuwe voorraad wyn aangeskaf. Ten spyte van al hierdie uitgawes wat ek uit my sak moes betaal, het ek nooit my goewerneurstoelaag geëis wat ek hiervoor kon gebruik nie. Ek het geweet hoe swaar die mense alreeds kry. My God, onthou tog alles wat ek vir hierdie volk gedoen het. Wees goed vir my daarvoor.
Lees Nehemia 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: Nehemia 5:1-19
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's