NEHEMIA 5:1-19

NEHEMIA 5:1-19 Die Boodskap (DB)

In ’n stadium het ’n klompie Judese mans en vroue ernstig gekla oor hulle meer vermoënde medeburgers. Party van hulle het gesê: “Ons het groot families wat moet eet, maar omdat ons aan die muur moet werk, kan ons nie self koring plant om te eet nie. Nou moet ons dit ten duurste koop.” Ander het gesê: “Ons moes al ons lande, wingerde en huise verkoop net om kos in die hande kry.” Nog ’n groep het gesê: “Ons moes geld leen net om die grondbelasting vir die koning op ons lande en wingerde te betaal. Ons behoort tog almal aan dieselfde volk. Ons kinders verskil mos nie van die rykes s’n nie? Maar ons moet ons kinders soos slawe vir ons skuldeisers laat werk. Hulle vat ons dogters as afbetaling van ons skuld. Nou is hulle niks anders as daardie mense se slawe nie. En ons kan niks daaraan doen nie, want ons het klaar reeds ons grond en wingerde weggegee.” Ek was baie omgekrap toe ek al hierdie dinge hoor. Nadat ek lank nagedink het, het ek besluit om met die ryk mense en die leiers te raas. “Julle buit julle mense uit!” het ek vir hulle gesê. Toe het ek ’n openbare volksvergadering belê om oor die probleem te praat en vir hulle gesê: “Ons probeer ons bes om ons Judese volksgenote wat as slawe aan heidennasies verkoop is, terug te kry sodat hulle weer vry kan wees. En nou doen julle presies dieselfde en dit nogal met julle eie mense! Verwag julle dat ons hulle ook nou moet terugkoop?” Niemand het ’n woord gesê nie, want hulle het niks gehad waarmee hulle hulle kon verdedig nie. “Dit is ’n onding wat julle doen!” het ek vir hulle gesê. “Julle is veronderstel om met groot respek teenoor julle God op te tree. Dan sal ons vyande, daardie mense wat nie die Here ken nie, geen rede hê om neer te sien op ons nie. Ek en al my helpers het aan hierdie arm mense geld en koring geleen,” het ek verder gesê. “Kom ons hou nou dadelik op om mense uit te buit wat swaarkry. Gee dadelik hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle terug en kanselleer die rente wat julle op hulle uitstaande skuld op hulle geld, koring, wyn en olyfolie gehef het.” “Ons sal maak soos jy sê en al hulle eiendom teruggee sonder om verdere skuld van hulle te probeer vorder,” was die ander mense se antwoord. Toe het ek die priesters nader geroep en hierdie mense onder eed laat belowe dat hulle hulle woord sou hou. Daarna het ek my sakke as ’n teken uitgeskud en gesê: “Mag God elkeen wat nie sy woord hou nie, net so uit sy huis en besittings uitskud sodat hy niks oorhet nie.” Die hele vergadering het gesê: “Amen; laat dit so wees!” en die Here geprys. Die mense het hulle belofte gehou. Van die twintigste tot die 32ste regeringsjaar van koning Artasasta, gedurende die twaalf jaar dat ek die goewerneur van Juda was, het nie ek of enige van my amptenare ooit aanspraak gemaak op ons amptelike kostoelaag nie. Al my voorgangers het anders as ek opgetree. Hulle het swaar laste op die mense geplaas. Behalwe vir brood en wyn het hulle ook nog elke dag 460 gram silwer van die mense as belasting geëis. Selfs hulle amptenare het die mense misbruik vir hulle eie gewin. Ek het dit nie gedoen nie omdat ek God eer. Ek het voluit aan die muur gewerk en nie eens vir my grond gekoop nie. Ek het van almal wat vir my gewerk het, verwag om aan die muur te werk. Ek het daagliks vir ten minste 150 Judeërs en hulle leiers kos gegee. Dit is nou buiten mense van die omringende gebiede wat by ons kom aansluit het en wat ook daar geëet het. Ek het elke dag ’n bees, ses uitgesoekte slagskape en baie hoenders gaargemaak. Elke tien dae is daar ook ’n nuwe voorraad wyn aangeskaf. Ten spyte van al hierdie uitgawes wat ek uit my sak moes betaal, het ek nooit my goewerneurstoelaag geëis wat ek hiervoor kon gebruik nie. Ek het geweet hoe swaar die mense alreeds kry. My God, onthou tog alles wat ek vir hierdie volk gedoen het. Wees goed vir my daarvoor.

NEHEMIA 5:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Party mans en hulle vroue het kom kla oor die Judeërs. Party het gesê: “Ons het baie kinders en ons moet koring kry om te eet en te lewe.” Party het gesê: “Daar is baie min kos. Ons moes ons koringlande en ons wingerde en ons huise gee om koring te kry.” En party het gesê: “Ons moes ons koringlande en ons wingerde gee om geld te kry om die belasting van die koning te betaal. Ons en ons kinders is ook Judeërs, maar ons moes ons seuns en dogters gee om slawe te word. Party mans het party van ons dogters verkrag, en ons kan niks doen nie. En ons koringlande en ons wingerde behoort nou aan ander mense.” Ek was baie kwaad toe ek hoor wat hulle sê. Ek het daaroor gedink, en toe het ek die belangrike mense en die leiers beskuldig en vir hulle gesê: “Julle wil hê julle broers moet meer en meer geld vir julle skuld.” Ek het die mense bymekaargeroep, en ons het 'n groot volksvergadering gehou om hulle te beskuldig. Ek het vir die belangrike mense en die leiers gesê: “Die Judeërs moes hulleself verkoop aan mense wat nie Israeliete is nie, maar ons het hulle losgekoop. Nou verkoop julle hulle weer, en ons sal hulle wéér moet loskoop.” Hulle het stilgebly, niemand het iets gesê nie. Toe sê ek: “Dit is nie 'n goeie ding wat julle doen nie. Julle moet só lewe en julle moet die Here só dien dat ons vyande, die heidene, niks sleg van julle kan sê nie. Ek en my broers en my manne het ook vir hierdie mense geld en koring geleen. Ons moet nou vergeet dat hulle vir ons iets skuld. Julle moet asseblief vandag hulle koringlande, hulle wingerde, hulle olyfboorde en hulle huise teruggee. Julle moet sê hulle moenie die geld en die koring en die olyf-olie teruggee wat hulle vir julle skuld nie.” Hulle het gesê: “Ons sal dit teruggee en ons sal nie vir hulle nog iets vra nie. Ons sal doen wat jy sê.” Ek het die priesters geroep. Hulle almal moes belowe dat hulle sal doen wat hulle gesê het, en dat God die getuie sal wees. Ek het ook my bo-kleed geskud en alles uitgegooi wat ek daarin gebêre het. Ek het gesê: “Ek bid dat God dieselfde sal doen met elke man wat nie doen wat hy belowe het nie. Ek bid dat God hom so sal uitskud uit sy huis en uit alles wat hy het, sodat hy niks sal hê nie.” Die volksvergadering het gesê: “Amen!” En hulle het die Here geprys. Almal het gedoen wat hulle belowe het. Almal moet ook weet dat ek en my broers nie die geld gevra het wat 'n goewerneur moet kry om kos te koop nie. Dit was so van die dag toe die koning my gekies en aangestel het om goewerneur van Juda te wees. Dit was twaalf jaar lank, van die 20ste tot die 32ste jaar wat Artasasta koning was. Die goewerneurs wat voor my hier was, het die mense laat swaarkry. Hulle het elke dag brood en wyn van elke persoon gevat. Die brood en wyn het 40 sikkels silwer gekos. En die manne wat vir die goewerneurs gewerk het, het ook die mense baie swaar laat kry. Maar ek het dit nie gedoen nie, want ek het die Here gerespekteer. Almal moet ook weet dat ek al my krag gegee het vir die werk om hierdie muur te bou. Ek het nie grond gekoop nie, en die manne wat vir my werk, het almal gehelp om die muur te bou. Daar het 150 persone van die Judeërs en hulle leiers by my geëet, en ook mense van die volke rondom ons wat na ons toe gekom het. Ek het elke dag 'n bees en ses vet skape laat slag en ek het ook hoenders laat gaarmaak, en elke tiende dag het ek ook baie wyn vir almal gegee. Maar ek het nie die geld gevra wat 'n goewerneur kon kry om kos te koop nie, want hierdie volk moes hard werk. My God, U moet goed wees vir my omdat ek al hierdie dinge gedoen het vir hierdie volk.

NEHEMIA 5:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar het 'n groot geroep van die volk en van hulle vroue ontstaan teen hulle broers, die Jode; en sommige het gesê: Ons seuns en ons dogters, ons is baie; ons wil koring hê, dat ons kan eet en lewe! En ander het gesê: Ons lande en ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood! En ander weer het gesê: Ons het op ons lande en ons wingerde geld geleen vir die belasting aan die koning. En nou, ons vlees is soos die vlees van ons broers en ons kinders soos hulle kinders, en tog moet ons nou ons seuns en ons dogters tot slawe verneder, en van ons dogters is al verneder sonder dat ons daar iets aan kan doen, en ons lande en ons wingerde behoort aan ander. En ek was baie verontwaardig toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor. En ek het by myself beraadslaag en met die edeles en die leiers getwis en aan hulle gesê: Julle leen uit op woeker, elkeen aan sy broer! En ek het 'n groot vergadering teen hulle belê en aan hulle gesê: Óns het ons Joodse broers wat aan die heidene verkoop was, na ons vermoë losgekoop; en tog verkoop júlle jul broers, sodat hulle hul aan ons moet verkoop. En hulle het geswyg en geen antwoord gevind nie. Verder het ek gesê: Dit is nie goed wat julle doen nie. Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie? Ek self, my broers en my mense het ook aan hulle geld en koring geleen; laat ons tog hierdie lening kwytskeld. Gee dan vandag nog hulle lande, hulle wingerde, hulle olyfbome en hulle huise aan hulle terug, en die honderdste deel van die geld en die koring, die mos en die olie wat julle aan hulle geleen het. Daarop sê hulle: Ons sal dit teruggee en niks van hulle vorder nie; ons sal net so handel soos u gesê het. En ek het die priesters geroep en hulle laat sweer om volgens hierdie woord te handel. Ook het ek my boesem uitgeskud en gesê: Mag God so elke man uitskud wat hierdie woord nie bevestig nie, uit sy huis en uit sy besitting; en mag hy so uitgeskud en leeg wees! Toe sê die hele vergadering: Amen! en hulle het die HERE geprys. En die volk het volgens hierdie woord gehandel. Ook van die dag af dat ek aangestel is om hulle goewerneur te wees in die land Juda, van die twintigste jaar af tot die twee-en-dertigste jaar van koning Artasásta, twaalf jaar lank, het ek en my broers die brood van goewerneurs nie geëet nie; terwyl die vorige goewerneurs wat voor my was, die volk swaar belas het en van hulle brood en wyn geneem het, daarna veertig sikkels silwer. Hulle mense het ook heerskappy gevoer oor die volk; maar so het ek uit vrees vir God nie gedoen nie. En ook by die werk aan hierdie muur het ek volhard sonder dat ons grond aangeskaf het, terwyl tog al my mense daar by die werk versamel was. En die Jode, die leiers, honderd-en-vyftig man, sowel as die wat uit die heidene rondom ons na ons toe gekom het, was aan my tafel. En wat vir elke dag berei is — een bees, ses uitgesoekte stuks kleinvee en voëls — is berei op my koste, en elke tien dae allerhande soorte wyn in oorvloed; en daarby het ek tog die brood van goewerneurs nie begeer nie, omdat die diens swaar was op hierdie volk. Dink, my God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!

NEHEMIA 5:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sekere mense en hulle vrouens het 'n ernstige klag teen hulle Judese volksgenote ingebring. Party het gesê: “Ons, ons seuns en ons dogters is baie. Ons moet koring in die hande kry om te eet en te lewe.” Party het gesê: “Ons moes vanweë die hongersnood ons lande, ons wingerde en ons huise verpand om koring in die hande te kry.” Party het gesê: “Ons moes geld leen om aan die koning die belasting op ons lande en ons wingerde te betaal. Ons en ons volksgenote, hulle seuns en ons seuns, is tog één, maar óns moet van ons seuns en ons dogters laat slawe word. Van ons dogters is al klaar slawe, en ons kan daar niks aan doen nie, want ons lande en ons wingerde is in ander se hande.” Ek was hewig ontsteld toe ek dié klag en dié beskuldigings hoor. Na ek dit oorweeg het, het ek die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers gelê en vir hulle gesê: “Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!” Ek het bowendien 'n groot volksvergadering belê om hulle aan die man te bring en daar vir hulle gesê: “Ons het ons Judese volksgenote wat aan heidene verkoop was, teruggekoop sover dit vir ons moontlik was. Nou verkoop júlle julle volksgenote, en moet ons hulle ook uiteindelik terugkoop!” Die manne het stilgebly; ek kon nie 'n woord uit hulle kry nie. Toe sê ek verder: “Dit is nie 'n goeie ding wat julle besig is om te doen nie. Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede en nie ons vyande, die heidene, minagting vir ons laat kry nie! Ek, my medeamptenare en my helpers moes ook aan dié mense geld en koring leen. Maar laat ons tog die uitbuiting staak. Gee vandag nog hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle terug en skeld hulle ook nog een persent kwyt van die geld, die koring, die wyn en die olie wat julle aan hulle geleen het.” Hulle het gesê: “Ons sal dit teruggee en niks meer van hulle eis nie. Ons sal maak soos u gesê het.” Ek het toe die priesters geroep en die burgers en amptenare onder eed laat onderneem om hiervolgens te handel. Self het ek my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God elkeen wat nie woord hou nie, so uit sy huis en sy besittings uitskud, dat hy net so kaal uitgeskud en leeg is.” Die hele vergadering het gesê: “Amen!” en hulle het die Here geprys. Die mense het toe gedoen wat ek gevra het. Van die dag af dat ek aangestel is as goewerneur in Juda, van die twintigste jaar af tot die twee en dertigste jaar van koning Artasasta, twaalf jaar lank, het ek en my medeamptenare nie aanspraak gemaak op die goewerneurstoelae nie. Die vroeëre goewerneurs, almal voor my, het swaar eise aan die volk gestel. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog vier honderd en sestig gram silwer geëis. Hulle amptenare het ook baas gespeel oor die volk. Ek het nie so gemaak nie, uit eerbied vir God. Ek het my volle gewig ingegooi by die werk aan hierdie muur, ek het nie lande gekoop nie, en al my helpers was hier by die werk saamgetrek. Honderd en vyftig man van die Judeërs en die amptenare en boonop die mense wat van die heidennasies rondom ons na ons toe gekom het, het aan my tafel geëet. Daar moes elke dag 'n bees, ses slagskape en 'n klomp voëls vir my gaargemaak word, en om die tien dae moes daar 'n groot hoeveelheid wyn vir die menigte kom. Nogtans het ek nie die goewerneurstoelae geëis nie, want die werk was alreeds 'n swaar las op hierdie volk. Onthou tog, my God, tot my voordeel, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het!

NEHEMIA 5:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar het 'n groot noodkreet onder die volk opgeklink, ook onder hulle vroue, gerig teen hulle Judese volksgenote. Daar was dié wat gesê het: “Saam met ons seuns en ons dogters is ons baie; ons moet koring kry, sodat ons kan eet en aan die lewe bly.” Dan was daar dié wat gesê het: “Ons landerye, ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood.” Ander weer het gesê: “Ons het geld geleen teen ons landerye en wingerde vir die belasting aan die koning. Daarom dan, ons is dieselfde vlees en bloed as ons volksgenote, en ons kinders is soos hulle kinders; maar kyk, ons moes ons seuns en dogters aan slawerny onderwerp. Daar is van ons dogters wat verneder is, maar ons hande was afgekap. Ons landerye en wingerde behoort aan ander.” Ek was baie kwaad toe ek hulle noodkreet en hierdie woorde hoor. Ek het in my hart daaroor nagedink, en toe die hoëlui en gesagsdraers verwyt en vir hulle gesê: “Elkeen van julle leen sowaar teen woekerrente aan sy volksgenoot. ” Ek het toe 'n groot byeenkoms teen hulle saamgeroep en vir hulle gesê: “Ons het self ons volksgenote, die Judeërs, wat aan die nasies verkoop was, na ons vermoë teruggekoop, maar julle verkoop ook julle volksgenote, sodat hulle aan ons verkoop moet word.” Hulle was doodstil en kon nie 'n antwoord vind nie. Verder het ek gesê: “Wat julle doen, is nie goed nie. Moet julle nie met ontsag vir ons God optree om die gespot van die nasies, ons vyande, te vermy nie? Ook ek, my broers en my werkers het aan volksgenote geld en koring geleen. Laat ons maar hierdie woekerrente kwytskeld. Gee tog vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise aan hulle terug, en ook die rente op die geld, koring, •nuwe wyn en olie wat julle aan hulle geleen het.” Daarop het hulle gesê: “Ons sal dit teruggee en van hulle niks eis nie. Ons sal presies maak soos jy gesê het.” Ek het toe die priesters ontbied en daardie mense 'n eed laat aflê om ooreenkomstig hierdie onderneming op te tree. Ek het ook die vou van my kleed uitgeskud en gesê: “Net so sal God elke man uitskud wat nie hierdie woord gestand doen nie – uit sy huis en uit sy besittings. Mag hy so uitgeskud en leeg wees.” Die hele byeenkoms het gesê “Amen!” en hulle het die HERE geloof. Die volk het woord gehou. Boonop het ek en my broers, vanaf die dag dat ek aangestel is om as hulle •streekgoewerneur in die land Juda op te tree, van die twintigste regeringsjaar van Artasasta, die koning, tot die twee-en-dertigste jaar – twaalf jaar lank – nie die voedsel wat streekgoewerneurs toekom, geëet nie. Maar die eerste streekgoewerneurs wat voor my daar was, het swaar laste op die volk gelê. Hulle het brood en wyn van hulle geneem, en daarna ook nog veertig sikkel silwer. Selfs hulle werkers het oor die volk geheers. Maar ek, ek het uit ontsag vir God nie so opgetree nie. Ook met die werk aan hierdie stadsmuur het ek volhard. Grond het ek nie gekoop nie, en al my werkers was altyd daar by die werk saamgetrek. Die Judeërs en die gesagsdraers, 'n honderd-en-vyftig man, en hulle wat uit die nasies rondom ons na ons gekom het, was by my aan tafel. En dit wat vir elke dag voorberei is, een bees, ses stuks uitgesoekte kleinvee en voëls, is voorberei op my koste; en elke tiende dag was daar van alle soorte wyn in oorvloed. Ondanks dit alles het ek die voedsel wat 'n streekgoewerneur toekom, nie geëis nie, omdat die werklas op hierdie volk swaar was. Onthou, tot my voordeel, my God, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het.

NEHEMIA 5:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daar was 'n groot geroep van die volk en van hulle vroue teen hulle broers, die Jode. Want daar was wat gesê het: Ons, ons seuns en ons dogters, is baie; daarom neem ons vir hulle koring op, dat ons kan eet en lewe. Daar was ook sommige wat gesê het: Ons het ons lande, wingerde en huise verpand, om koring te koop weens die gebrek. Daar was ook wat gesê het: Ons het geld geleen vir die belasting van die koning, en dit op ons lande en wingerde. Maar nou is ons vlees soos die vlees van ons broers, ons kinders soos hulle kinders; en kyk, ons bring ons seuns en ons dogters in slawerny om diensbaar te wees, en sommige van ons dogters is al in slawerny gebring; en dit is ook nie in ons krag om hulle te verlos; want ander mense het ons lande en wingerde. En ek was baie kwaad toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor. Toe het ek met myself geraadpleeg en die edeles en die owerstes bestraf en vir hulle gesê: Julle eis woeker, elkeen van sy broer. En ek het 'n groot vergadering teen hulle opgerig. En ek het vir hulle gesê: Ons het na ons vermoë ons broers, die Jode, wat aan die heidene verkoop is, losgekoop; en sal julle selfs julle broers verkoop? of sal hulle aan ons verkoop word? Toe het hulle stilgebly en niks gekry om te antwoord nie. Ek het ook gesê: Dit is nie goed dat julle dit doen nie; moet julle nie in die vrees van onse God wandel vanweë die smaad van die heidene, ons vyande nie? Net so sou ek en my broers en my dienaars geld en koring van hulle kon eis; Gee hulle tog vandag nog hulle lande terug, hulle wingerde, hulle olyfbome en hulle huise, ook die honderdste deel van die geld en van die koring, die wyn en die olie wat julle van hulle. Toe sê hulle: Ons sal hulle herstel en niks van hulle eis nie; so sal ons doen soos U sê. Toe roep ek die priesters en het 'n eed van hulle afgelê dat hulle volgens hierdie belofte moes handel. Ek het ook my skoot geskud en gesê: So skud God dan elkeen uit sy huis en uit sy arbeid wat hierdie belofte nie nakom nie; laat hy ook so uitgeskud en leeggemaak word. Toe sê die hele vergadering: Amen, en loof die HERE. En die volk het volgens hierdie belofte gedoen. Verder van die tyd af dat ek aangestel is om hulle goewerneur in die land Juda te wees, van die twintigste jaar tot die twee-en-dertigste jaar van koning Artasasta, dit is twaalf jaar, het ek en my broers nie die brood geëet van die goewerneur. Maar die vorige goewerneurs wat voor my was, was aan die volk belaster en het van hulle brood en wyn geneem, behalwe veertig sikkels silwer; ja, selfs hulle dienaars het heers oor die volk; maar ek het nie so gedoen nie, vanweë die vrees van God. Ja, ek het ook volgehou met die werk van hierdie muur, en ons het geen grond gekoop nie, en al my dienaars het daar by die werk vergader. Verder was daar aan my tafel honderd-en-vyftig van die Jode en owerstes, behalwe dié wat na ons gekom het uit die heidene wat rondom ons is. En wat daagliks vir my berei is, was een bees en ses uitgesoekte skape; ook is daar vir my voëls berei en een maal in die tien dae van allerhande soorte wyn opgegaar; tog het ek die brood van die goewerneur nie geverg nie, omdat die slawerny swaar op hierdie volk was. Dink aan my, my God, ten goede, volgens alles wat ek vir hierdie volk gedoen het.

NEHEMIA 5:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In hierdie tyd was daar ook ernstige klagtes van die volk en die vroue teen sommige van hulle mede-Jode. Party van hulle het gesê: “Ons het groot families. Ons moet koring in die hande kry om te kan oorleef.” Ander het gesê: “Ons het ons landerye, wingerde en huise verpand om gedurende die hongersnood kos in die hande te kry.” Nog ander het gesê: “Ons het geld geleen om die koningsbelasting op ons landerye en wingerde te betaal. Ons is almal familie van mekaar, ons kinders is vir hulle net soos hulle kinders. Tog moet ons ons kinders as slawe verkoop om net genoeg geld te kry om van te leef. Ons moes al van ons dogters verkoop. Ons is magteloos om iets daaraan te doen, want ons landerye en wingerde is alreeds aan ander mense verpand.” Toe ek hulle klagtes hoor en al die dinge wat hulle sê, was ek baie kwaad. Nadat ek dit goed oordink het, het ek die leiers en amptenare aangespreek en vir hulle gesê: “Julle buit julle eie mense uit deur geld teen rente aan hulle te leen!” Ek het toe ’n groot openbare vergadering oor die probleem belê. By die vergadering het ek vir hulle gesê: “Ons het ons bes gedoen om ons Joodse volksgenote wat hulleself aan vreemde volke moes verkoop, vry te kry. Nou verkoop julle julle eie mense weer as slawe en ons moet hulle terugkoop!” Hulle was stil en het nie ’n woord gesê nie. Ek het voortgegaan en gesê: “Wat julle doen, is nie reg nie! Behoort julle leefwyse nie te wys dat julle ons God respekteer nie? Die vyandige volke sou dan mos nie rede gehad het om julle te minag nie. Ek, my familie en my werkers het self ook geld en graan aan van die mense geleen. Kom ons hou nou op om op hierdie manier geld teen rente uit te leen. “Julle moet vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle teruggee. Betaal ook die rente terug wat julle op hulle geld, graan, wyn en olyfolie gehef het.” Hulle het toe gesê: “Ons sal maak soos u sê. Ons sal alles teruggee en niks meer van hulle eis nie.” Ek het die priesters geroep en die leiers en amptenare ’n eed laat sweer dat hulle sal doen wat hulle beloof het om te doen. Toe het ek ook my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God julle net so uitskud uit julle huise en julle eiendom as julle nie julle belofte nakom nie!” Die vergadering het heelhartig daarmee saamgestem en die HERE geprys. Die mense het hulle beloftes nagekom. Ek was twaalf jaar lank goewerneur van Juda. Dit het gestrek vanaf die twintigste tot die 32ste jaar wat koning Artasasta regeer het. In dié tyd het nie ek of enige van my amptenare die kostoelaag waarop die goewerneur geregtig is, gebruik nie. Maar dit was nie die geval met die goewerneurs wat my voorgangers was nie. Hulle het die mense swaar belas. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog 460 gram silwer geëis. Selfs die goewerneurs se amptenare het van die mense misbruik gemaak. Maar ek het nie so opgetree nie omdat ek vir God ontsag het. Ek het my aandag aan die bou van die muur gegee en nie vir my grond aangeskaf nie. Ek het ook van al my amptenare verwag om aan die muur te werk. Ek het gereeld 150 Judeërs en amptenare aan tafel gehad. Dit was bo en behalwe die besoekers wat uit lande van die omgewing gekom het. Elke dag moes hulle vir my ’n bees, ses slagskape en ’n groot hoeveelheid hoenders slag. Verder het ons elke tiende dag ’n groot verskeidenheid wyn nodig gehad. Ten spyte daarvan het ek geweier om die goewerneur se kostoelaag op te eis, want die werkslas op hierdie mense was alreeds baie swaar. My God, onthou asseblief alles wat ek vir hierdie mense gedoen het. Wees daaroor goed vir my.