Numeri 19

19
Die reinigingswater
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Gaan sê vir die Israeliete hulle moet vir julle ’n koei bring wat rooi van kleur is. Die koei mag nie kruppel of vermink wees nie en sy mag ook nog nooit enige werk gedoen het nie. 3Bring haar vir die priester Eleasar sodat hy haar uit die kamp kan uitvat en haar daar kan laat slag. 4Hy moet dan van die bloed in ’n bak opvang en met sy vinger sewe keer daarvan in die rigting spat van die ingang van die tent waar Ek aanbid word. 5Daarna moet die koei voor Eleasar verbrand word, vel, vleis, bloed en binnegoed alles saam. 6Die priester moet dan ’n stukkie sederhout, hisoptakkies en ’n stukkie rooi wol in die vuur gooi waarin die koei verbrand word. 7Daarna moet die priester sy klere was en bad voordat hy weer mag teruggaan kamp toe. Hy is egter vir die res van die dag nie geskik om diens te doen in die tent nie. 8Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere was en bad. Hy is ook vir die res van die dag onrein. 9’n Rein persoon moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n skoon plek gaan bêre. Die Israeliete moet hierdie as saam met die reinigingswater gebruik. Die doel van hierdie ritueel is om vir hulle sonde vergifnis te vra. 10Die persoon wat die koei se as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was, maar hy sal ook vir die res van die dag onrein wees. Hierdie is ’n permanente gebruik wat geld vir die Israeliete en vir die mense van ander volke wat by hulle bly.”
Hoe die reinigingswater gebruik is
11“Iemand wat aan ’n lyk raak, mag vir ’n week nie enige amptelike godsdienstige funksies verrig by die tent waar Ek aanbid word nie. 12So ’n persoon moet homself op die derde en die sewende dag met die reinigingswater was, en dan kan hy weer godsdienstige take verrig. Indien hy dit nie presies so doen nie, bly hy onrein. 13As iemand aan ’n lyk geraak het en homself nie op hierdie manier gereinig het nie, en hy kom by die tent waar Ek aanbid word, maak hy dit onrein. Dan moet die ander Israeliete hom wegjaag uit hulle midde, want hy bly onrein.
14“Wanneer iemand in ’n tent doodgaan, is elkeen wat in daardie tent ingaan en alles wat daarbinne is, vir sewe dae onrein. 15Elke houer met kos of water wat nie ’n deksel opgehad het nie, is ook onrein. 16Enigiemand wat in die veld aan die liggaam raak van ’n soldaat wat dood is, of selfs aan ’n persoon wat aan natuurlike oorsake dood is, of selfs aan ’n geraamte of ’n graf, mag vir sewe dae geen amptelike godsdienstige take in die tent verrig of daar naby kom nie.
17“As iemand op hierdie manier onrein geword het, moet die persoon van die as van die offer vat wat vir mense se sondes geoffer word, dit in ’n pot sit en vars water daaroor gooi. 18Dan moet iemand anders wat rein is, ’n hisoptakkie vat en dit in die water druk. Met hierdie takkie moet hy dan van die water oor die tent sprinkel, en oor al die voorwerpe en houers in die tent en ook oor die mense wat betrokke was. Dieselfde prosedure moet gevolg word in die geval van iemand wat aan ’n lyk, iemand wat vermoor is, ’n geraamte of ’n graf geraak het. 19Die rein persoon moet hierdie water op die derde en sewende dag op die onrein persoon sprinkel. Op die sewende dag moet die persoon wat nie aan enige amptelike godsdienstige aktiwiteite kan deelneem nie, homself skoon was. Sy klere ook. Teen die aand sal hy dan weer rein wees.
20“As iemand wat onrein is homself nie op dié manier gereinig het nie, moet hy uit die midde van Israel weggejaag word, want hy het die Here se heilige tent met sy eie onreinheid besoedel. Daarom mag hy nie meer as ’n Israeliet behandel word nie. 21Dit is ’n permanente reël. Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet agterna ook sy klere was. Enige persoon wat aan die reinigingswater raak, sal vir die res van die dag onrein wees. 22Enigiemand of enigiets waaraan ’n onrein persoon raak, bly vir die res van daardie dag onrein.”

Tans Gekies:

Numeri 19: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan