Openbaring 15
15
Sing ’n nuwe lied vir God
1Ek sien toe nog ’n ander teken in die hemel waaruit ons baie kan leer. Dit was ’n groot en asemrowende toneel. Ek het sewe engele gesien met sewe rampe. Dit is die laaste rampe wat die mense sal tref. Dit rond God se woede oor die sondes af.
2Ek sien toe iets wat lyk soos ’n see van glas wat in vuur brand met ’n klomp mense wat langs die see staan. In hulle hande was musiekinstrumente van God. Dit was al die mense wat enduit volgehou het in die stryd teen die dier en sy beeld en die kodenommer van sy naam en wat uiteindelik gewen het. 3Hulle het Moses se lied gesing. Moses het God mos gedien. Hierdie lied is ook die lied van die Lam:
“Here God, die dinge wat U alles doen, is so groot dat dit ons asem heeltemal wegslaan. Here, U is die sterkste en kragtigste van almal! Wat U doen, is altyd reg en regverdig. U doen dinge soos dit hoort. U heers oor al die mense van die wêreld en hulle sal dit moet erken.
4“Here, wie sal U nie met groot agting en respek hanteer nie? Wie sal nie vir ander vertel hoe belangrik U regtig is nie? U en U alleen is soos U is: heilig. Al die mense sal na U toe stroom en U as God aanbid. Hulle kan nou sien dat wat U doen, regverdig is.”
5Na hierdie pragtige lied het iets anders my aandag getrek. Daar was ’n tent in die hemel waarin God vroeër op ’n spesiale manier by sy mense was. Die tent se ingang het oopgegaan. 6Daar het sewe engele uit die tent uitgestap met sewe rampe. Hulle het duur, mooi klere aangehad. Die klere was van suiwer, spierwit linne gemaak. Elkeen het ook ’n breë, goue gordel aangehad.
7Een van die vier lewende wesens wat om God se troon gestaan het, gee toe vir elke engel ’n goue bak. Hierdie sewe bakke was propvol van die woede en straf van God, die God wat vir ewig en altyd leef. 8God se woonplek, sy tempel, het gelyk of dit vol rook was. Eintlik was dit die verbysterende grootheid en krag van God waarvan dit oorgeloop het. Niemand kon toe in die tempel ingaan nie. Hulle moes eers wag tot die sewe rampe van die sewe engele klaar was.
Tans Gekies:
Openbaring 15: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.