Openbaring 4

4
By die lewende God in sy troonsaal
1Ek kyk toe op en wat sien ek daar? Soos dit vir my gelyk het, was daar aan die blou koepel van die hemel ’n deur wat oopgestaan het. Ek hoor toe Iemand met my praat. Dit was dieselfde stem wat ek die heel eerste keer gehoor het. Dit was mos so hard soos ’n trompet wat in my oor geblaas word. Hy sê toe vir my: “Kom op hierheen. Dan sal Ek jou wys hoe alles van hier af gaan gebeur.”
2Die Heilige Gees het met my laat gebeur wat die stem gevra het. Ek is deur die deur in die hemel in. Daar, in die hemel, het ’n troon gestaan. Iemand, God self, het op die troon gesit. 3Toe ek na Hom kyk, was dit of ek na edelgesteentes kyk wat wit en rooi lig weerkaats. Dit het my daaraan laat dink hoe groot God is, maar ook laat besef dat Hy goddeloses gaan oordeel. ’n Pragtige reënboog het ook God se troon omraam. Dit het geskitter soos ’n groen edelsteen. Dit het my laat besef dat God wat op die troon sit, altyd getrou is.
4Rondom hierdie groot troon in die middel het daar nog 24 trone gestaan. Op elkeen van hierdie trone het ’n leier van die kerk gesit, 24 van hulle. Hulle het duur, wit klere aangehad en soos konings het elkeen met ’n goue kroon op sy kop gesit. Hulle het saam met God geheers.
5Blitse het geslaan en die donder het uit die rigting van die troon gerommel. Die Gees van God het voor God se troon gestaan, gereed om sy werk te gaan doen. Dit het kompleet gelyk soos ’n klomp helder ligte wat gelyk brand. 6Voor die troon was dit of daar ’n see van glas was, glad en stil. Dit het my laat besef dat niks van Satan se bose onrustigheid God se kalmte ooit sal kan versteur nie. Aan elkeen van die vier kante van die troon het ’n lewende wese gestaan. Hulle het baie besonders gelyk. Hulle het niks misgekyk nie, want hulle was oortrek van die oë.
7Die eerste een het soos ’n leeu gelyk en die tweede een soos ’n os. Die derde een het ’n gesig soos ’n mens s’n gehad en die vierde een het gelyk soos ’n arend wat vlieg.
Hierdie vier wesens het die skepping verteenwoordig: die arend het die vlieënde diere, die leeu die wilde diere en die os die mak diere verteenwoordig en die een met die gesig van ’n mens het al die mense verteenwoordig.
8Elkeen van die vier diere het ook ses vlerke gehad. Niks in die skepping was dus buite hulle bereik nie, want met hulle vlerke kon hulle oral vlieg. Die vlerke was ook oortrek met oë wat alles sien. Dag en nag, sonder ophou, het hulle bly sê: “Heilig, heilig, heilig is God die Here, die Een wat mag oor alles het. Hy was nog altyd daar, Hy is nou steeds by ons, en Hy sal in die toekoms nog altyd by ons wees.”
9Die vier lewende wesens maak geen geheim daarvan hoe groot God is nie. Hulle basuin oral uit hoe belangrik Hy is. Hy is daar en leef vir ewig en altyd. Hulle hou nie op om vir God wat op sy troon sit vir alles en nogmaals alles dankie te sê nie. 10Wanneer die 24 leiers van die kerk dit hoor, val hulle uit eerbied voor God neer wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en altyd leef. Hulle sit die krone voor God neer om te wys dat Hy die enigste werklike heerser is. Dan sê hulle in ’n koor: 11“Here, ons God, wie kan so belangrik wees soos U? Na U sien almal op; U is sterker as die sterkstes. En dit is ook reg so, want dit is hoe U is. Ja, U het alles gemaak. Alles in die skepping is daar omdat U dit so wou gehad het.”

Tans Gekies:

Openbaring 4: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan