Romeine 10
10
1My broers en susters, ek het een groot wens: dat God Israel sal verlos. Dag en nag bid ek dat dit sal gebeur.
2Ek moet erken: die Israeliete is baie toegewyd in hulle godsdiens. Maar op die ou end help dit hulle niks nie. Want hulle het verskriklik baie ywer, maar hulle sit gestrand sonder die regte kennis van God. 3Hulle het God se manier van vryspraak verwerp en toe probeer om deur al die goeie dinge wat hulle doen self hulle verhouding met God in orde te kry. Maar dit werk nie so nie. Omdat hulle hulle nie aan God se plan van verlossing onderwerp het nie, het hulle sy vryspraak misgeloop.
4Sonder Christus help dit niks dat mense die wet probeer hou nie. Hy gee betekenis en inhoud aan alles wat die wet sê. Elkeen wat in Hom glo, word deur God vrygespreek sonder dat hulle dit verdien.
Hoe word ’n mens gered?
5Moses skryf dat elkeen wat die wet streng onderhou op grond daarvan in die regte verhouding met God sal leef. 6Maar hy sê dat wanneer jy al jou vertroue in God stel om jou van jou sondes vry te spreek, dinge heeltemal anders verloop. As jy in God glo, weet jy dat Christus die hele tyd naby is. Dan is dit nie meer nodig om te wonder of iemand na die hemel toe moet opklim om Christus daar te gaan soek om Hom na ons toe af te bring nie. 7Of om êrens in die onderwêreld na Hom te gaan soek en Hom uit die dood hierheen te bring nie. Nee, dan moet jy net jou oë oopmaak en in Christus glo. 8Moses het immers al gesê: “God se goeie nuus, sy woord van redding, is hier. Dit is so naby aan jou soos om die regte woorde vir God te sê. Dit is so naby aan jou soos om met jou hele hart in God te glo.”
Ek maak hierdie goeie nuus oral bekend. 9En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. 10As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos. 11Die Bybel sê immers:
“Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.”
12Hierdie goeie nuus geld vir alle mense, vir Jode en ook vir nie-Jode. Die Here heers oor ons almal. Hy stort sy groot genade uit oor almal wat Hom om hulp vra. 13Elkeen wat uitroep: “Here, help my!” sal gered word, maak nie saak wie hy is nie.
Hoe kom die goeie nuus by almal uit?
14Jy kan nie die Here vra om jou te help as jy nog nie eens weet wie Hy is nie. En hoe kan jy weet wie Hy is as jy nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan mense van Hom hoor as daar niemand is om hulle van Hom te vertel nie? 15En hoe kan mense vir ander van Hom gaan vertel as hulle nie gestuur word om dit te doen nie? Daarom sê die Bybel:
“Hoor hoe wonderlik klink die voetstappe van diegene wat vir ander mense gaan vertel van al die goeie dinge wat God doen.”
16Nie almal glo egter hierdie goeie nuus nie. Daarom het Jesaja op ’n dag gevra: “Here, wat help dit dat ons vir ander mense van U vertel? Hulle glo dit tog nie.” 17Nogtans moet die Woord van die Here bekendgemaak word. Mense kan net tot geloof kom as hulle die Woord hoor. Daarom maak ek die boodskap van Christus oral bekend sodat mense ’n kans kan kry om dit te hoor.
18Nou vra ek: Het hulle nie al genoeg kanse gehad om na God se Woord te luister nie? Ja, natuurlik! Een van die psalms sê juis:
“Die stem van God se boodskappers het wêreldwyd weerklink. Hulle woorde is tot in die verste uithoeke van die wêreld gehoor.”
19Waar lê die fout dan? Het Israel nie verstaan waaroor dit alles gaan nie? Luister na wat God deur sy kneg Moses hieroor sê: “Ek gaan julle nog baie jaloers maak op daardie mense op wie julle nou neersien. Wanneer julle sien hoe hulle in My glo, selfs al ken hulle My nie so goed soos julle nie, sal julle ontplof van woede.”
20Jesaja het selfs nog verder gegaan. God het deur hom vir sy volk gesê: “Ek laat My vind deur mense wat nooit na My gesoek het nie. Ek het My bekendgemaak aan mense wat nooit eens gevra het wie Ek is nie.”
21Daarna het Jesaja ook ’n verdoemende woord van God se kant af aan Israel gerig: “Dag na dag het Ek met oop arms op Israel se terugkoms gewag. Maar hulle ore is doof en hulle harte is so hard soos klip.”
Tans Gekies:
Romeine 10: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.