Romeine 13
13
Die owerheid is ook in God se diens
1Wees ’n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is. Onthou: hulle ontvang hulle gesag van God af, van Hom wat oor al die mag beskik. 2As jy nie na die owerhede luister nie, verset jy jou eintlik teen God self. Dan wag daar groot probleme op jou.
3’n Mens hoef natuurlik nie vir die owerhede bang te wees as jy hulle wette gehoorsaam nie. As jy egter ’n wetsoortreder is, het jy rede om benoud te wees. Terloops, dit is baie maklik om op goeie voet met die owerhede te wees: kom net al jou verpligtings getrou na. Dan sal hulle selfs sê dat jy ’n voorbeeldige landsburger is.
4Ek sê weer: die owerhede staan in God se diens. Hy verwag van hulle om te sorg dat wet en orde gehandhaaf word. As jy ’n wetsgehoorsame burger is, kan jy maar ontspan. Maar as jy die wet oortree, gaan hulle jou swaar straf. God vereis immers van die owerhede om alle wetsoortreders vas te vat. 5Jy moet egter nie net na die owerhede luister omdat jy bang is dat jy gestraf sal word as jy verkeerd doen nie. Nee, jy moet ook na hulle luister omdat jy weet dat God dit van jou vra.
6Julle betaal belasting sodat daar goeie orde in die samelewing kan wees. Dit is die owerhede as dienaars van God se plig om hierdie belasting reg aan te wend. 7Betaal dus wat jy verskuldig is: belasting aan dié wat belasting vra, tolgeld aan dié wat dit vra, ontsag aan dié wat dit toekom, respek vir dié wat gerespekteer moet word, en eer vir dié wat geëer moet word.
Wanneer jy ander mense
liefhet, gehoorsaam jy die hele wet
8Betaal jou skuld! Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. 9Al die voorskrifte in die wet - jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte - kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself. 10Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet.
Lees die tyd reg
11Julle moenie so vasgevang raak in julle besige lewens dat julle nie agterkom hoe laat dit al is nie. Kyk, die einde, die groot dag van die Here, is voor die deur. 12Trouens, dit is sommer al baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Daarom moet ons wakker word. Die nag is verby; dit is al amper dag. 13Ons moet dadelik ophou met al ons sondes wat tot die donker hoort en begin leef soos mense van die dag wat God se wapens van die lig aanhet. Ons moet net doen wat God sê. Skandelike dinge soos uitspattighede en dronkpartytjies, seksuele losbandigheid en goddeloosheid, ’n bakleiery en jaloesie is nou heeltemal ontoelaatbaar. 14Staan dadelik op en trek die krag van die Here Jesus Christus as julle nuwe klere aan. Moet nooit enige plek vir sonde in julle lewens gee nie. Moet nooit swig voor versoekings nie.
Tans Gekies:
Romeine 13: DB
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.