Hooglied 2

2
1Ek is soos ’n veldblommetjie wat in Saron groei en soos ’n lelie in die vallei.
Hy
2Tussen al die ander vroue is my vriendinnetjie soos ’n lelie tussen droë takke.
Sy
3My vriend is ook anders. Hy is soos ’n appelboom in ’n bos. In sy skadu vind ek rus en sy vrugte is louter genot.
4Hy het my na ’n feesplek toe gevat en almal kon sien hoe lief hy my het.
5Ek is uitgeput van al die baie liefhê. Bring vir my rosyntjiebrood en appels, dat ek gou weer kan sterk word.
6Sy linkerarm is onder my kop terwyl sy regterarm my vasdruk en omhels.
7Vroue van Jerusalem, sweer by die ribbok en die takbok dat julle nie die liefde sal wakker maak nie tot dit tyd is daarvoor.
8Luister mooi. Daar ver klink my liefling se stem. Hy is op pad na my toe; hy hardloop oor die berge en gly oor die heuwels.
9My liefling is so rats soos ’n jong bokkie en so vlug soos ’n takbok. Hy staan al langs die muur by die venster en kyk deur die traliewerk na binne.
Hy
10Staan op, my liefste, en kom saam met my.
11Die winter is weg en al die reëns is verby.
12Oral staan die veldblommetjies in bloei en oral begin die voëls sing. Selfs die tortels hoor ’n mens al koer.
13Die eerste vye is ryp en die eerste trossies hang in die wingerd. Oral is daar net die geur van wingerd en van veld. Kom, my liefste, staan gou op en kom saam met my.
14Jy is soos ’n duifie wat in ’n rotsskeur skuil. Laat my gou weer net jou gesiggie sien en jou stemmetjie hoor. Hoe lieflik is die klank van jou stem tog, en hoe mooi jou gesig.
15Vang die klein jakkalsies, vang hulle gou voor hulle die wingerd van ons liefde verwoes.
Sy
16My liefling is myne en ek is syne. Hy is weer weg om sy vee tussen die lelies te laat wei.
17Eers as die aandwind opsteek en die skadu’s verdwyn, kom hy weer terug. Kom, my liefling, kom gou weer soos ’n jong bokkie en ’n bergbok oor die ruwe berge na my.

Tans Gekies:

Hooglied 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan