1 KORINTIËRS 10:1-22

1 KORINTIËRS 10:1-22 AFR83

Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het. Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop. Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus. Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom. Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie. Julle moenie afgodsdienaars word nie, soos sommige van hulle oor wie daar geskrywe staan: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan en hulle aan uitspattighede oorgegee.” Laat ons ook nie onsedelikheid pleeg nie, soos sommige van hulle onsedelikheid gepleeg het, en op een dag het daar drie en twintig duisend omgekom. Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom. En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom. Hierdie dinge het oor hulle gekom as 'n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as 'n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. Daarom, my geliefdes, moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie. Ek praat met julle as verstandige mense. Beoordeel self wat ek sê. Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Kyk maar hoe is dit by die Joodse volk. Kom daar dan nie gemeenskap tot stand tussen die offeraltaar en dié wat die offers eet nie? Wat wil ek hiermee sê? Dat 'n afgodsoffer of 'n afgod enige betekenis het? Nee, maar dat dié wat aan hulle offer, aan bose geeste offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê julle moet met bose geeste gemeenskap hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van bose geeste nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van bose geeste nie. Of wil ons die Here uittart? Is ons miskien sterker as Hy?