KOLOSSENSE 4:7-18

KOLOSSENSE 4:7-18 AFR83

Tigikus, die medegelowige wat ek baie liefhet, sal julle alles vertel van hoe dit met my gaan. Hy is 'n getroue dienaar en werk saam met my in diens van die Here. Ek stuur hom na julle toe juis sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem. Onesimus, die getroue medegelowige wat ek baie liefhet en wat een van julle is, gaan saam met hom. Hulle sal julle alles vertel van hoe dit hier gaan. Aristargos, wat hier saam met my gevange sit, stuur vir julle groete; ook Markus, die neef van Barnabas. Oor hom het julle reeds opdragte gekry: as hy daar by julle kom, moet julle hom gasvry ontvang. Verder stuur Jesus, wat ook Justus genoem word, groete. Hulle drie is die enigste Jode wat saam met my werk vir die koninkryk van God. Hulle is vir my 'n groot troos. Epafras, wat een van julle is, stuur vir julle groete. Hy staan in diens van Christus Jesus en bid altyd ernstig vir julle dat julle staande mag bly, geestelik volwasse en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God. Ek kan van hom getuig dat hy baie vir julle doen asook vir die gelowiges in Laodisea en in Hiërapolis. Lukas, die dokter wat ek baie liefhet, en Demas stuur vir julle groete. Dra my groete oor aan die gelowiges in Laodisea en aan Nimfa en die gemeente wat gereeld in haar huis bymekaarkom. Wanneer hierdie brief klaar by julle voorgelees is, moet julle reëlings tref dat dit ook in die gemeente van die Laodisense voorgelees kan word; en die een wat van Laodisea af sal kom, moet ook by julle voorgelees word. En sê vir Argippus: “Gee jou aandag aan die taak wat jy in diens van die Here aanvaar het, sodat jy dit kan voltooi.” Nou skrywe ek met my eie hand. Groete, Paulus. Dink aan my waar ek hier gevange sit. Die genade sal by julle wees.

Gratis leesplanne en oordenkings oor KOLOSSENSE 4:7-18