EKSODUS 26:15-30

EKSODUS 26:15-30 AFR83

“Jy moet rame van doringhout maak vir die tabernakel om dit regop te hou. Elke raam moet vyf meter lank en 'n driekwart meter breed wees. Daar moet twee tappe vir elke raam wees om die rame aanmekaar te kan voeg. So moet jy al die rame vir die tabernakel maak. “Maak twintig rame vir die raamwerk aan die suidekant, die regterkant van die tabernakel. Verder moet jy veertig silwervoetstukke maak om onder die twintig rame te sit, twee voetstukke onder elke raam by sy twee tappe. “Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, moet daar ook twintig rame wees. Vir hulle moet daar ook veertig silwervoetstukke wees, twee voetstukke onder elke raam. Jy moet ses rame maak vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. Jy moet ook nog twee rame maak vir die hoeke aan die agterkant van die tabernakel. Hierdie rame moet van onder tot bo, tot by die boonste ring, versterk word. Hulle is die hoekrame. Daar moet dus ag rame wees met hulle sestien voetstukke, twee voetstukke vir elke raam. “Jy moet dwarslatte van doringhout maak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. Die middelste dwarslat moet in die middel van die rame dwarsdeur loop van die een kant af tot by die ander kant. “Trek die rame met goud oor en maak vir hulle goue ringe om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte moet ook met goud oorgetrek word. Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is.