EKSODUS 4:10-17

EKSODUS 4:10-17 AFR83

Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.” Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens 'n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.” Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien. Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen. Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee. Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”