ESEGIËL 17:1-10

ESEGIËL 17:1-10 AFR83

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, jy moet vir Israel 'n fabel, 'n gelykenis, vertel. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: “Die groot arend met die groot vlerke, die lang vlerkpenne en die digte, bont vere het na die Libanon toe gekom en die top van die seder weggevat. Hy het die boonste takkie afgepluk, dit na die land van die handelaars toe gebring en dit daar in die stad van die smouse gaan neersit. Daarna het hy 'n steggie uit Israel gevat en dit in die grond gesit waar daar baie water was en waar dit kon floreer. Die steggie het gegroei en 'n wingerdstok geword wat welig was maar laag op die grond moes bly met sy blare na die arend toe gedraai en sy wortels onder hom. Dit het 'n wingerdstok geword, ranke gemaak en lote uitgeskiet. Daar kom toe nog 'n groot arend met groot vlerke en baie vere, en die wingerdstok draai sy wortels na dié arend toe en stuur sy ranke in dié se rigting sodat die arend vir hom nog meer water kan gee as wat daar was op die plek waar hy geplant was. Hy was geplant in goeie grond, by baie water; hy kon ranke maak en druiwe dra, hy kon 'n pragtige wingerdstok geword het. “Jy moet sê: So sê die Here my God: “Sal dit goed gaan met die wingerdstok? Gaan die eerste arend dan nie sy wortels uittrek en sy vrugte vernietig sodat al sy druiwe verdroog wat aan die ryp word was nie? Daar is nie groot mag en baie mense nodig om hom met wortels en al uit te trek nie. Hy is geplant, maar sal hy goed groei? Sal hy nie heeltemal verdor wanneer die oostewind hom tref nie? Hy sal verdroog op die plek waar hy gegroei het.”