Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.” Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?” Toe beveel die Here hom: “Bring vir My 'n vers, 'n bok en 'n skaapram, almal drie jaar oud, en 'n tortelduif en 'n jong duif.” Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag. Teen sononder het 'n diep slaap Abram oorval; angs, 'n groot donkerte het hom oorweldig. Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. Jy sal in vrede sterf en op 'n hoë ouderdom begrawe word. Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.” Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik 'n oond wat rook en 'n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur. Op daardie dag het die Here 'n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier; die land van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete, die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”
Lees GENESIS 15
Deel
Vergelyk alle weergawes: GENESIS 15:7-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's