LEVITIKUS 13:1-28

LEVITIKUS 13:1-28 AFR83

Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Wanneer iemand êrens aan sy lyf 'n swelsel of 'n uitslag of 'n seer het wat dalk kan ontwikkel in 'n velsiekte wat hom onrein kan maak, moet hy na Aäron of een van die Aäronitiese priesters toe gebring word. Die priester moet dan die seerplek ondersoek. As die hare daarop wit geword het en dit lyk of die ontsteking dieper is as die vel, is dit 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester wat dit ondersoek het, moet dan die persoon onrein verklaar. Maar as die seer 'n ligte kleur het en dit lyk of dit nie dieper as die vel is nie en die hare daarop het nie wit geword nie, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As daar na die priester se mening geen verandering ingetree het nie en die ontsteking het nie versprei in die vel nie, moet hy die persoon nog 'n week afsonder. Op die sewende dag moet die priester die persoon dan weer ondersoek. As die ontsteking opgeklaar het en nie verder versprei het in die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Dit is dan 'n onskadelike uitslag. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees. As die uitslag egter verder versprei nadat die priester hom ondersoek en rein verklaar het, moet hy weer na die priester toe gaan vir 'n ondersoek. As die priester merk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar. Dit is dan 'n velsiekte waardeur hy onrein gemaak word. “Iemand wat vermoedelik 'n velsiekte het wat hom onrein kan maak, moet na die priester toe gebring word. Die priester moet hom dan ondersoek. “Al is daar op die vel net 'n enkele wit seerplek wat die hare laat wit word en wat oop en rou is, het die persoon alreeds 'n velsiekte wat hom onrein maak. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Die priester hoef die persoon nie vir 'n tyd af te sonder nie, want hy is klaar onrein. “Maar as iemand 'n velsiekte het wat so versprei het dat dit vir die priester lyk of dit die hele lyf bedek, moet die priester hom noukeurig ondersoek. “Al is die velsiekte oor sy hele lyf versprei, maar daar is geen teken van ontsteking nie, is hy rein. Maar wanneer daar êrens aan hom 'n rou seer verskyn, is hy onrein. “Wanneer die priester by 'n ondersoek 'n rou seer ontdek, moet hy die persoon onrein verklaar. 'n Rou seer beteken onreinheid, 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. As die rou seer egter genees en 'n wit roof vorm, moet hy weer na die priester toe gaan. Die priester moet dit ondersoek. As die seerplek inderdaad 'n wit roof gevorm het, moet die priester die persoon rein verklaar. Hy is rein. “As iemand aan sy lyf 'n verswering gehad het wat genees het, en waar die verswering was, kom daar 'n wit swelsel of 'n rooierige seer, moet dit aan die priester gewys word. Die priester moet dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad onder die vel is en die hare daarop het wit geword, moet die priester die persoon onrein verklaar. Deur die verswering het daar 'n velsiekte ontstaan wat hom onrein maak. “Maar as die priester die plek ondersoek en sien dat die hare daarop nie wit geword het nie, dat die kwaad nie onder die vel is nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. As die kwaad dan verder versprei in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Hy het 'n seerplek wat hom onrein maak. Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie versprei nie, is dit maar net die litteken van die verswering. Die priester kan hom dan rein verklaar. “Wanneer iemand 'n brandwond opgedoen het en die rou wond vorm 'n rooierige of 'n wit seer, moet die priester die plek ondersoek. As die hare op die seer wit geword het en die seer lyk dieper as die vel, het deur die brandwond 'n velsiekte ontstaan waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Hy het 'n velsiekte wat hom onrein maak. As die priester by sy ondersoek egter vind dat die hare op die seer nie wit geword het nie, dat die seer nie dieper is as die vel nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As die kwaad verder versprei het in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n velsiekte wat hom onrein maak. Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie in die vel versprei nie maar opgeklaar, is dit die swelsel van die brandwond. Die priester moet hom dan rein verklaar, want dit is maar net die merk van die brandwond.