LEVITIKUS 7:11-16

LEVITIKUS 7:11-16 AFR83

“Die reëlings oor die maaltydoffers wat vir die Here aangebied word, is soos volg: as iemand dit aanbied as dankoffer, bied hy saam met die dankoffer ongesuurde ringbrood aan, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, of 'n deegmengsel vir ringbrood, met olie geknie. Hy bied sy offer aan saam met ringbrood met suurdeeg, saam met sy maaltydoffer waarmee hy sy dank wil uitspreek. Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood. “Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende môre nie. “As iemand 'n offer aanbied om 'n gelofte na te kom of as hy 'n ander vrywillige offer aanbied, word die vleis dieselfde dag geëet. Wat oorbly, mag ook nog die volgende dag geëet word