LUKAS 1:26-56

LUKAS 1:26-56 AFR83

In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?” Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. Niks is vir God onmoontlik nie.” Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan. Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer. Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur. Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.” Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.