LUKAS 14:7-11

LUKAS 14:7-11 AFR83

Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: “As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”