1 KONINGS 15:1-24
1 KONINGS 15:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die agtiende regeringsjaar van Jerobeam seun van Nebat het Abia koning oor Juda geword, en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Maäka, 'n dogter van Abisalom. Abia het dieselfde sondes as sy pa gedoen, en hy was nie so getrou aan die Here as sy voorvader Dawid nie. Dit is ter wille van Dawid dat die Here sy God aan hom 'n nakomeling gegee het om in Jerusalem te regeer en die stad in stand te hou. Dit was omdat Dawid gedoen het wat reg is in die oë van die Here, en sy lewe lank nooit die opdragte van die Here verontagsaam het nie, behalwe in die geval van Urija die Hetiet. Gedurende Rehabeam se hele regering was daar oorlog tussen hom en Jerobeam. Die ander verhale oor Abia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam. Abia is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg. In die twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asa koning geword van Juda. Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het. Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand. Die hoogtes het wel nie heeltemal verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here. Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die huis van die Here gebring: silwer, goud en offergereedskap. Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel. Tydens 'n veldtog teen Juda het Baesa die stad Rama in 'n vesting begin omskep om te verhoed dat mense die gebied van koning Asa van Juda kon binnekom of verlaat. Asa het toe al die silwer en goud gevat wat nog oor was in die skatkamers van die huis van die Here en die paleis, en koning Asa het dit met boodskappers vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad seun van Tabrimmon, seun van Gesjon, was koning van Aram in Damaskus. Asa het die volgende boodskap saamgestuur: “Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons ouers. Ek stuur vir u 'n geskenk van silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.” Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa se versoek. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hy het Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret saam met die hele gebied van Naftali verower. Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en in Tirsa gaan woon. Koning Asa het al die Judeërs opgeroep, hy het niemand verskoon nie, en hulle het die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk in Rama gebruik het, weggedra. Die koning het dit gebruik vir bouwerk by Geba in Benjamin en by Mispa. Al die ander verhale oor Asa, oor sy dapper dade en oor alles wat hy gedoen het, en oor die stede wat hy laat bou het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Net dít kom nog by: in sy ouderdom het hy 'n kwaal aan sy voete opgedoen. Asa is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.
1 KONINGS 15:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die agttiende regeringsjaar van koning Jerobeam, seun van Nebat, het Abia koning geword oor Juda. Hy het drie jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. Hy het volhard met al die sondes van sy vader wat dié voor hom gedoen het. Sy hart was nie volkome by die HERE sy God, soos die hart van sy voorvader Dawid was nie. Maar ter wille van Dawid het die HERE sy God vir Dawid 'n lamp gegee in Jerusalem deur sy nasaat ná hom te vestig en Jerusalem staande te hou. Want Dawid het gedoen wat reg is in die oë van die HERE en hy het sy lewe lank nie afgewyk van alles wat die HERE hom beveel het nie, behalwe in die geval van Uria, die Hetiet. Daar was oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam solank hy geleef het. Die verdere geskiedenis van Abia, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. Abia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Asa het in sy plek koning geword. In die twintigste regeringsjaar van Jerobeam, koning van Israel, het Asa koning van Juda geword. Hy het een-en-veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, soos sy voorvader Dawid. Hy het die manlike tempelprostitute uit die land laat verwyder en weggedoen met al die afgodsbeelde wat sy voorsate gemaak het. Selfs vir Maäga, sy grootmoeder, vir haar het hy as koninginmoeder verwyder omdat sy 'n gruwelike beeld vir Asjera gemaak het. Asa het dié gruwelike beeld afgekap en dit in die Kidrondal verbrand. Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Tog was Asa se hart volkome by die HERE solank hy geleef het. Hy het die •heilige gawes van sy vader en sy eie heilige gawes in die huis van die HERE ingeneem – silwer en goud en gebruiksartikels. Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. Baesa, koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama versterk om verkeer van en na Asa, koning van Juda, te verhinder. Asa neem toe al die silwer en goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van die HERE en in die skatkamers van die koninklike paleis, en vertrou dit aan sy dienaars toe. Koning Asa stuur dit toe na Ben-Hadad, seun van Tabrimmon, seun van Ges-jon, koning van Aram, wat sy setel in Damaskus gehad het, met dié woorde: “Daar is 'n verdrag tussen my en u, tussen my vader en u vader. Kyk, ek stuur vir u 'n geskenk – silwer en goud. Verbreek dan u verdrag met Baesa, koning van Israel, sodat hy van my af wegtrek.” Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa en die •aanvoerders van sy krygsmag teen die dorpe van Israel gestuur. Hulle het Ijon, Dan en Abel-Bet-Maäga aangeval, en ook die hele Gennesaret en die hele gebied van Naftali. Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik opgehou om Rama te versterk en in Tirsa gebly. Koning Asa, daarenteen, het die hele Juda opgeroep – niemand is verskoon nie – en hulle het die klippe van Rama waarmee Baesa gebou het, asook die hout, weggedra. Daarmee het koning Asa toe Geba, in Benjamin, en Mispa versterk. Die volle verdere geskiedenis van Asa, al sy magtige dade, alles wat hy gedoen het en die stede wat hy gebou het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Op sy oudag het hy egter aan 'n voetkwaal gely. Asa het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid, sy voorvader. Sy seun Josafat het in sy plek koning geword.
1 KONINGS 15:1-24 Die Boodskap (DB)
Abia het in die agtiende jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. Hy het net drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma, Maäka, was ’n dogter van Abisalom. Hy het dieselfde verkeerde dinge as sy pa, Rehabeam, gedoen. Hy het ook nie die Here so liefgehad soos sy oupagrootjie Dawid nie. Ter wille van Dawid het die Here vir Abia ’n seun gegee wat na hom kon regeer en Jerusalem kon beskerm. Behalwe vir die verkeerde daad teen Urija die Hetiet, het Dawid altyd die regte dinge in die oë van die Here gedoen. Abia en Jerobeam het heeltyd oorlog teen mekaar gemaak. Alles wat Abia gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings geskryf. Abia is dood en in Jerusalem begrawe. Sy seun Asa het hom opgevolg. Asa het in die twintigste jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. Hy het 41 jaar in Jerusalem regeer. Sy ouma Maäka was ’n dogter van Abisalom. Asa was anders as Abia. Hy het goeie dinge gedoen, net soos sy voorvader Dawid. Hy het alle manlike prostitute uit die land verban en die afgode van sy voorgangers verwoes. Hy het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder ontslaan omdat sy ’n groot en afskuwelike beeld van Asjera, die godin van vrugbaarheid, gemaak het. Asa het die ding afgebreek en in die Kidrondal verbrand. Asa was lief vir die Here, maar hy kon op die ou end nie daarin slaag om al die offerplekke op die hoogtes waar die volk so graag geoffer het te verwoes nie. Hy het al die goed wat sy pa aan die Here se diens gewy het, in die tempel gestoor. Asa het ook al die goue en silwervoorwerpe wat hy self aan die Here gewy het, in die tempel gaan bewaar. Asa en Baesa, koning van Israel, het gedurig teen mekaar oorlog gemaak. Op ’n dag het Baesa Juda binnegeval en Rama versterk sodat niks of niemand Juda kon binnegaan of verlaat nie. Asa het bang geword. Hy het toe al die goud en silwer wat in die tempel opgeberg is, asook alles wat hy in die paleis kon kry, bymekaargemaak en vir sy amptenare gegee. Hulle moes onmiddellik na Ben-Hadad, koning van Sirië, die seun van Tabrimmon en die kleinseun van Gesjon, wat in Damaskus woon, vertrek. Hulle moes namens Asa vir Ben-Hadad sê: “Daar is mos ’n ooreenkoms tussen ons twee, net soos daar ook een tussen ons pa’s was. Hier is vir u ’n geskenk van goud en silwer, maar ek vra dat u my moet help. Verbreek tog u ooreenkoms met Baesa sodat hy uit Juda sal padgee.” Ben-Hadad het ingestem en sy beste generaals en hulle leërs na Israel toe gestuur. Hulle het die dorpe van Israel aangeval. Hy het Ijon en Dan en Abel-Bet-Maäka verower, asook die hele Gennesaret en die land van Naftali. Toe Baesa hiervan hoor, het hy opgehou met die bouwerk in Rama en dadelik na Tirsa teruggegaan. Asa het toe die hele Juda opgeroep. Niemand is verskoon nie. Hulle het na Rama opgeruk en al Baesa se stene en hout gevat en ander stede daarmee begin bou. Asa het Geba in Benjamin en Mispa met die materiaal uit Rama gebou. Alles wat Asa verder gedoen het, sy dapper dade en al sy bouwerke, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Op sy oudag het Asa kruppel geloop omdat hy ’n voetsiekte gehad het. Asa het gesterf en is in die grafte van die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom opgevolg.
1 KONINGS 15:1-24 Bybel vir almal (ABA)
Abia het koning van Juda geword in die agtiende jaar nadat Jerobeam seun van Nebat koning geword het. Abia was drie jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Maäka dogter van Abisalom. Abia het dieselfde sondes gedoen wat sy pa vóór hom gedoen het. Hy het nie die Here met sy hele hart gedien soos sy voorvader Dawid nie. Maar omdat die Here lief was vir Dawid, het die Here iemand uit Dawid se nageslag koning laat word in Jerusalem, sodat die lamp van Dawid se nageslag daar kon aanhou brand. Die mense van Jerusalem was veilig. Die Here het iemand uit Dawid se nageslag gekies omdat Dawid dinge gedoen het waarvan die Here hou en omdat hy sy hele lewe lank gehoorsaam was aan alles wat die Here gesê het. Hy het net een maal verkeerd gedoen toe hy Urija die Hetiet se vrou gevat het en vir Urija laat doodmaak het. Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam terwyl Rehabeam gelewe het. Al die ander dinge wat Abia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. Abia het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het koning geword ná hom. Asa het koning van Juda geword in die twintigste jaar nadat Jerobeam koning van Israel geword het. Asa was 41 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ouma was Maäka, dogter van Abisalom. Asa het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het. Asa het die tempel-prostitute uit die land laat wegjaag en hy het al die afgode laat wegvat wat sy voorvaders gemaak het. Hy het ook gesê sy ouma Maäka sal nie meer belangrik wees omdat sy 'n koning se ma is nie, want sy het 'n beeld laat maak van die godin Asjera. Asa het die beeld laat afkap en hy het dit laat verbrand in die Kedron-vallei. Die offer-plekke was nog daar, maar Asa het die Here met sy hele hart gedien terwyl hy gelewe het. Hy het die wydingspresente van sy pa, en ook sy eie wydingspresente in die tempel gesit. Dit was goud, silwer en gereedskap. Daar was altyd oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. Baesa, koning van Israel, het vir Juda aangeval en hy het die stad Rama gebou en sterk gemaak, want hy wou keer sodat mense nie na koning Asa toe kan gaan en weer kan terugkom nie. Asa het toe al die silwer en die goud geneem wat nog in die tempel en in die paleis was, en hy het dit vir boodskappers gegee om dit na Ben-Hadad te neem. Ben-Hadad was die seun van Tab-Rimmon seun van Gesjon, en hy was die koning van die Arameërs. Asa het vir hom hierdie boodskap gestuur: “Daar was 'n ooreenkoms tussen jou pa en my pa. So moet ek en jy ook 'n ooreenkoms maak. Ek stuur vir jou hierdie present, die silwer en die goud. Jy moet nou jou ooreenkoms met Baesa breek, dan sal hy weggaan uit my land.” Ben-Hadad het gedoen wat koning Asa gevra het en hy het die hoofde van sy leër gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan, Abel en Bet-Maäka oorwin, en ook al die plekke in Gennesaret en die land Naftali. Toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om die stad Rama te bou en sterk te maak, en hy het na die stad Tirsa teruggegaan. Koning Asa het al die mense van Juda laat roep. Hulle moes almal kom. Hulle het die klippe en die hout weggedra wat Baesa wou gebruik om die stad Rama te bou. Koning Asa het die stad Geba in die land Benjamin en die stad Mispa gebou met daardie klippe en hout. Al die ander dinge wat Asa gedoen het, ook die belangrike dinge en die stede wat hy gebou het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Toe hy oud was, het hy siek geword, sy voete was baie seer. Hy het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy voorvader Dawid. Asa se seun Josafat het koning geword ná hom.
1 KONINGS 15:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die agttiende jaar van koning Jeróbeam, die seun van Nebat, het Abía oor Juda koning geword. Hy het drie jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Máäga, die dogter van Abísalom. En hy het gewandel in al die sondes van sy vader wat hy voor hom gedoen het; en sy hart was nie volkome met die HERE sy God soos die hart van sy vader Dawid nie. Maar ter wille van Dawid het die HERE sy God vir hom 'n lamp in Jerusalem gegee deur sy seun ná hom te verwek en Jerusalem in stand te hou, omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van die HERE, sonder om af te wyk van alles wat Hy hom beveel het, al die dae van sy lewe, behalwe in die saak van Uría, die Hetiet. En daar was oorlog tussen Rehábeam en Jeróbeam, al die dae van sy lewe. En die verdere geskiedenis van Abía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Daar was ook oorlog tussen Abía en Jeróbeam. En Abía het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid; en sy seun Asa het in sy plek koning geword. IN die twintigste jaar dan van Jeróbeam, die koning van Israel, het Asa koning van Juda geword. En hy het een-en-veertig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Máäga, 'n dogter van Abísalom. En Asa het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid: hy het die skandseuns uit die land laat wegtrek en al die drekgode verwyder wat sy vaders gemaak het. Ja, selfs sy moeder Máäga het hy as gebiedster afgesit, omdat sy 'n afgryslike voorwerp vir Asjéra gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en in die dal Kidron verbrand. Die hoogtes is wel nie afgeskaf nie, maar Asa se hart was volkome met die HERE al sy dae. En hy het die heilige gawes van sy vader en sy heilige gawes in die huis van die HERE gebring: silwer en goud en allerhande voorwerpe. En daar was oorlog tussen Asa en Baésa, die koning van Israel, al hulle dae. En Baésa, die koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama gebou om niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit- of ingaan nie. Toe neem Asa al die silwer en die goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning, en gee dit in die hand van sy dienaars; en koning Asa het hulle gestuur na Bénhadad, die seun van Tabrímmon, die seun van Hésjon, die koning van Aram wat in Damaskus gewoon het, om te sê: Daar is 'n verbond tussen my en u, tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur 'n geskenk van silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek, weg van my af. En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte teen die stede van Israel gestuur, en Ijon en Dan en Abel-Bet-Máäga en die hele Kínnerot met die hele land Náftali verwoes. En net toe Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en in Tirsa gebly. Toe roep koning Asa die hele Juda op — niemand was vry nie — en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en daarmee het koning Asa Geba in Benjamin en Mispa gebou. En die res van die verdere geskiedenis van Asa en al sy magtige dade en alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Maar in die tyd van sy ouderdom het hy aan sy voete gely. En Asa het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Jósafat het in sy plek koning geword.
1 KONINGS 15:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die agtiende jaar van koning Jeróbeam, die seun van Nebat, het Abía oor Juda geregeer. Hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. En die naam van sy moeder was Máäga, die dogter van Abísalom. En hy het gewandel in al die sondes van sy vader wat hy voor hom gedoen het, en sy hart was nie volkome met die HERE sy God soos die hart van sy vader Dawid nie. Maar ter wille van Dawid het die HERE sy God hom 'n lamp in Jerusalem gegee om sy seun ná hom op te rig en Jerusalem te bevestig. Omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van die HERE, en nie afgewyk het van alles wat Hy hom al die dae van sy lewe beveel het nie, behalwe in die saak van Urija, die Hetiet. En daar was oorlog tussen Rehabeam en Jeróbeam al die dae van sy lewe. En die verdere geskiedenis van Abía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En daar was oorlog tussen Abia en Jeróbeam. En Abía het ontslaap met sy vaders; en hulle het hom begrawe in die stad van Dawid, en sy seun Asa het in sy plek geregeer. En in die twintigste jaar van Jeróbeam, die koning van Israel, het Asa oor Juda geregeer. En een en veertig jaar het hy in Jerusalem geregeer. En die naam van sy moeder was Máäga, die dogter van Abísalom. En Asa het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, net soos sy vader Dawid. En hy het die sodomiete uit die land weggeneem en al die drekgode verwyder wat sy vaders gemaak het. En ook sy moeder Maäga, haar het hy ook verwyder om koningin te wees, omdat sy 'n afgod in 'n bos gemaak het; en Asa het haar afgod vernietig en dit by die spruit Kidron verbrand. Maar die hoogtes het nie afgewyk nie; nogtans was Asa se hart volkome met die HERE al sy dae. En hy het die gawes wat sy vader geheilig het en wat hy geheilig het, in die huis van die HERE ingebring: silwer en goud en voorwerpe. En daar was oorlog tussen Asa en Baesa, die koning van Israel, al hulle dae. En Baesa, die koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama gebou, sodat hy niemand sou toelaat om by Asa, die koning van Juda, uit te gaan of in te gaan nie. Toe neem Asa al die silwer en die goud wat oorgebly het in die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning, en gee dit in die hand van sy dienaars; en koning Asa het dit na die seun van Benhadad gestuur van Tabrimon, die seun van Hesion, die koning van Aram, wat in Damaskus gewoon het, en gesê: Daar is 'n verbond tussen my en jou en tussen my vader en jou vader; kyk, ek het vir jou 'n geskenk van silwer en goud gestuur; kom en verbreek jou verbond met Baesa, die koning van Israel, dat hy van my kan weggaan. Daarop het Benhadad na koning Asa geluister en die leërowerstes wat hy gehad het teen die stede van Israel gestuur, en hy het Ijon en Dan en Abel-Bet-Maaga en die hele Sinerot verslaan, met die hele land Naftali. En toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en in Tirsa gaan woon. Toe het koning Asa 'n uitroep deur die hele Juda gemaak; en hulle het die klippe van Rama en sy hout waarmee Baésa gebou het, weggeneem; en koning Asa het saam met hulle Geba van Benjamin en Mispa gebou. Die verdere geskiedenis van Asa en al sy magtige dade en alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Nietemin was hy in die tyd van sy oudag siek aan sy voete. En Asa het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Jósafat het in sy plek geregeer.
1 KONINGS 15:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die agtiende regeringsjaar van Jerobeam seun van Nebat het Abia koning van Juda geword. Hy het drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, dogter van Abisalom. Hy het dieselfde sondes gepleeg as sy pa voor hom. Hy het nie die HERE sy God met oorgawe gedien soos sy voorsaat Dawid nie. Maar ter wille van Dawid het die HERE sy God sy koningshuis in Jerusalem laat voortbestaan deur vir hom ’n seun te gee om ná hom in Jerusalem te regeer en die stad in stand te hou. Dit was so omdat Dawid gedoen het wat die HERE se goedkeuring geniet het en die voorskrifte van die HERE sy lewe lank gehoorsaam het, behalwe in die geval van Urija die Hetiet. Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam, al die dae van Rehabeam se lewe. Die ander gebeurtenisse tydens Abia se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam. Toe Abia sterf, is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg. Asa het in die twintigste regeringsjaar van Jerobeam van Israel koning van Juda geword. Hy het 41 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, dogter van Abisalom. Asa het gedoen wat die HERE se goedkeuring geniet het net soos sy voorvader Dawid. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en al die afgode wat sy voorgangers gemaak het, weggeneem. Hy het selfs sy ma Maäka onthef van haar posisie as koninginmoeder omdat sy ’n afskuwelike beeld ter ere van Asjera laat maak het. Hy het dit stukkend gekap en in die Kidrondal verbrand. Hoewel die hoogtes nie verwyder is nie, het Asa nogtans gedurende sy hele lewe aan die HERE getrou gebly. Hy het ook die silwer en goue offergereedskap wat hy en sy pa aan God gewy het, na die tempel toe gebring. Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel. Koning Baesa van Israel het Juda binnegeval en Rama versterk om sodoende te verhoed dat enigiemand koning Asa van Juda se gebied kon binnekom of verlaat. Asa het toe die silwer en goud wat nog in die skatkamers van die HERE se tempel en die koninklike paleis was, geneem. Hy het amptenare gestuur om dit na Ben-Hadad seun van Tabrimmon en kleinseun van Gesjon, die koning van Aram in Damaskus, te vat. Hy het hom laat weet: “Laat ons ’n ooreenkoms sluit soos wat daar tussen u pa en my pa was. Kyk, ek stuur vir u ’n geskenk van silwer en goud. Verbreek tog u ooreenkoms met koning Baesa van Israel sodat hy van my af kan wegtrek.” Ben-Hadad het na Asa se versoek geluister. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die dorpe Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret en ook die hele gebied van Naftali verower. Toe Baesa van Israel hoor wat besig is om te gebeur, het hy die bouwerk by Rama laat staan en in Tirsa gaan woon. Daarna het koning Asa die hele Juda opgeroep. Elkeen sonder uitsondering moes help om die klippe en hout wat Baesa vir die bouwerk in Rama gebruik het, weg te dra. Asa het hierdie boumateriaal gebruik vir bouwerk by Geba in Benjamin en by Mispa. Die ander gebeurtenisse tydens Asa se regering, al sy dapper dade, alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. In sy ouderdom het hy egter ’n siekte aan sy voete opgedoen. Toe Asa sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.