1 Konings 15:1-24

1 Konings 15:1-24 ABA

Abia het koning van Juda geword in die agtiende jaar nadat Jerobeam seun van Nebat koning geword het. Abia was drie jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Maäka dogter van Abisalom. Abia het dieselfde sondes gedoen wat sy pa vóór hom gedoen het. Hy het nie die Here met sy hele hart gedien soos sy voorvader Dawid nie. Maar omdat die Here lief was vir Dawid, het die Here iemand uit Dawid se nageslag koning laat word in Jerusalem, sodat die lamp van Dawid se nageslag daar kon aanhou brand. Die mense van Jerusalem was veilig. Die Here het iemand uit Dawid se nageslag gekies omdat Dawid dinge gedoen het waarvan die Here hou en omdat hy sy hele lewe lank gehoorsaam was aan alles wat die Here gesê het. Hy het net een maal verkeerd gedoen toe hy Urija die Hetiet se vrou gevat het en vir Urija laat doodmaak het. Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam terwyl Rehabeam gelewe het. Al die ander dinge wat Abia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. Abia het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het koning geword ná hom. Asa het koning van Juda geword in die twintigste jaar nadat Jerobeam koning van Israel geword het. Asa was 41 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ouma was Maäka, dogter van Abisalom. Asa het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het. Asa het die tempel-prostitute uit die land laat wegjaag en hy het al die afgode laat wegvat wat sy voorvaders gemaak het. Hy het ook gesê sy ouma Maäka sal nie meer belangrik wees omdat sy 'n koning se ma is nie, want sy het 'n beeld laat maak van die godin Asjera. Asa het die beeld laat afkap en hy het dit laat verbrand in die Kedron-vallei. Die offer-plekke was nog daar, maar Asa het die Here met sy hele hart gedien terwyl hy gelewe het. Hy het die wydingspresente van sy pa, en ook sy eie wydingspresente in die tempel gesit. Dit was goud, silwer en gereedskap. Daar was altyd oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. Baesa, koning van Israel, het vir Juda aangeval en hy het die stad Rama gebou en sterk gemaak, want hy wou keer sodat mense nie na koning Asa toe kan gaan en weer kan terugkom nie. Asa het toe al die silwer en die goud geneem wat nog in die tempel en in die paleis was, en hy het dit vir boodskappers gegee om dit na Ben-Hadad te neem. Ben-Hadad was die seun van Tab-Rimmon seun van Gesjon, en hy was die koning van die Arameërs. Asa het vir hom hierdie boodskap gestuur: “Daar was 'n ooreenkoms tussen jou pa en my pa. So moet ek en jy ook 'n ooreenkoms maak. Ek stuur vir jou hierdie present, die silwer en die goud. Jy moet nou jou ooreenkoms met Baesa breek, dan sal hy weggaan uit my land.” Ben-Hadad het gedoen wat koning Asa gevra het en hy het die hoofde van sy leër gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan, Abel en Bet-Maäka oorwin, en ook al die plekke in Gennesaret en die land Naftali. Toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om die stad Rama te bou en sterk te maak, en hy het na die stad Tirsa teruggegaan. Koning Asa het al die mense van Juda laat roep. Hulle moes almal kom. Hulle het die klippe en die hout weggedra wat Baesa wou gebruik om die stad Rama te bou. Koning Asa het die stad Geba in die land Benjamin en die stad Mispa gebou met daardie klippe en hout. Al die ander dinge wat Asa gedoen het, ook die belangrike dinge en die stede wat hy gebou het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Toe hy oud was, het hy siek geword, sy voete was baie seer. Hy het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy voorvader Dawid. Asa se seun Josafat het koning geword ná hom.