1 Konings 15:1-24

1 Konings 15:1-24 DB

Abia het in die agtiende jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. Hy het net drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma, Maäka, was ’n dogter van Abisalom. Hy het dieselfde verkeerde dinge as sy pa, Rehabeam, gedoen. Hy het ook nie die Here so liefgehad soos sy oupagrootjie Dawid nie. Ter wille van Dawid het die Here vir Abia ’n seun gegee wat na hom kon regeer en Jerusalem kon beskerm. Behalwe vir die verkeerde daad teen Urija die Hetiet, het Dawid altyd die regte dinge in die oë van die Here gedoen. Abia en Jerobeam het heeltyd oorlog teen mekaar gemaak. Alles wat Abia gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings geskryf. Abia is dood en in Jerusalem begrawe. Sy seun Asa het hom opgevolg. Asa het in die twintigste jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. Hy het 41 jaar in Jerusalem regeer. Sy ouma Maäka was ’n dogter van Abisalom. Asa was anders as Abia. Hy het goeie dinge gedoen, net soos sy voorvader Dawid. Hy het alle manlike prostitute uit die land verban en die afgode van sy voorgangers verwoes. Hy het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder ontslaan omdat sy ’n groot en afskuwelike beeld van Asjera, die godin van vrugbaarheid, gemaak het. Asa het die ding afgebreek en in die Kidrondal verbrand. Asa was lief vir die Here, maar hy kon op die ou end nie daarin slaag om al die offerplekke op die hoogtes waar die volk so graag geoffer het te verwoes nie. Hy het al die goed wat sy pa aan die Here se diens gewy het, in die tempel gestoor. Asa het ook al die goue en silwervoorwerpe wat hy self aan die Here gewy het, in die tempel gaan bewaar. Asa en Baesa, koning van Israel, het gedurig teen mekaar oorlog gemaak. Op ’n dag het Baesa Juda binnegeval en Rama versterk sodat niks of niemand Juda kon binnegaan of verlaat nie. Asa het bang geword. Hy het toe al die goud en silwer wat in die tempel opgeberg is, asook alles wat hy in die paleis kon kry, bymekaargemaak en vir sy amptenare gegee. Hulle moes onmiddellik na Ben-Hadad, koning van Sirië, die seun van Tabrimmon en die kleinseun van Gesjon, wat in Damaskus woon, vertrek. Hulle moes namens Asa vir Ben-Hadad sê: “Daar is mos ’n ooreenkoms tussen ons twee, net soos daar ook een tussen ons pa’s was. Hier is vir u ’n geskenk van goud en silwer, maar ek vra dat u my moet help. Verbreek tog u ooreenkoms met Baesa sodat hy uit Juda sal padgee.” Ben-Hadad het ingestem en sy beste generaals en hulle leërs na Israel toe gestuur. Hulle het die dorpe van Israel aangeval. Hy het Ijon en Dan en Abel-Bet-Maäka verower, asook die hele Gennesaret en die land van Naftali. Toe Baesa hiervan hoor, het hy opgehou met die bouwerk in Rama en dadelik na Tirsa teruggegaan. Asa het toe die hele Juda opgeroep. Niemand is verskoon nie. Hulle het na Rama opgeruk en al Baesa se stene en hout gevat en ander stede daarmee begin bou. Asa het Geba in Benjamin en Mispa met die materiaal uit Rama gebou. Alles wat Asa verder gedoen het, sy dapper dade en al sy bouwerke, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Op sy oudag het Asa kruppel geloop omdat hy ’n voetsiekte gehad het. Asa het gesterf en is in die grafte van die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom opgevolg.