In die agttiende regeringsjaar van koning Jerobeam, seun van Nebat, het Abia koning geword oor Juda. Hy het drie jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. Hy het volhard met al die sondes van sy vader wat dié voor hom gedoen het. Sy hart was nie volkome by die HERE sy God, soos die hart van sy voorvader Dawid was nie. Maar ter wille van Dawid het die HERE sy God vir Dawid 'n lamp gegee in Jerusalem deur sy nasaat ná hom te vestig en Jerusalem staande te hou. Want Dawid het gedoen wat reg is in die oë van die HERE en hy het sy lewe lank nie afgewyk van alles wat die HERE hom beveel het nie, behalwe in die geval van Uria, die Hetiet.
Daar was oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam solank hy geleef het. Die verdere geskiedenis van Abia, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. Abia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Asa het in sy plek koning geword.
In die twintigste regeringsjaar van Jerobeam, koning van Israel, het Asa koning van Juda geword. Hy het een-en-veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Maäga, dogter van Abisalom. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, soos sy voorvader Dawid. Hy het die manlike tempelprostitute uit die land laat verwyder en weggedoen met al die afgodsbeelde wat sy voorsate gemaak het. Selfs vir Maäga, sy grootmoeder, vir haar het hy as koninginmoeder verwyder omdat sy 'n gruwelike beeld vir Asjera gemaak het. Asa het dié gruwelike beeld afgekap en dit in die Kidrondal verbrand. Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Tog was Asa se hart volkome by die HERE solank hy geleef het. Hy het die •heilige gawes van sy vader en sy eie heilige gawes in die huis van die HERE ingeneem – silwer en goud en gebruiksartikels.
Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. Baesa, koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama versterk om verkeer van en na Asa, koning van Juda, te verhinder. Asa neem toe al die silwer en goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van die HERE en in die skatkamers van die koninklike paleis, en vertrou dit aan sy dienaars toe. Koning Asa stuur dit toe na Ben-Hadad, seun van Tabrimmon, seun van Ges-jon, koning van Aram, wat sy setel in Damaskus gehad het, met dié woorde: “Daar is 'n verdrag tussen my en u, tussen my vader en u vader. Kyk, ek stuur vir u 'n geskenk – silwer en goud. Verbreek dan u verdrag met Baesa, koning van Israel, sodat hy van my af wegtrek.” Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa en die •aanvoerders van sy krygsmag teen die dorpe van Israel gestuur. Hulle het Ijon, Dan en Abel-Bet-Maäga aangeval, en ook die hele Gennesaret en die hele gebied van Naftali.
Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik opgehou om Rama te versterk en in Tirsa gebly. Koning Asa, daarenteen, het die hele Juda opgeroep – niemand is verskoon nie – en hulle het die klippe van Rama waarmee Baesa gebou het, asook die hout, weggedra. Daarmee het koning Asa toe Geba, in Benjamin, en Mispa versterk.
Die volle verdere geskiedenis van Asa, al sy magtige dade, alles wat hy gedoen het en die stede wat hy gebou het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Op sy oudag het hy egter aan 'n voetkwaal gely. Asa het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid, sy voorvader. Sy seun Josafat het in sy plek koning geword.